On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark: Onderwyser wat in motorongeluk sterf, het op trou gestaan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:04 Tue, 23 Apr 2024

Vanderbijlpark: Onderwyser wat in motorongeluk sterf, het op trou gestaan | News Article
Gerbrandt Ferreira (31) en sy ma was albei in dié noodlottige ongeluk. Foto verskaf

“Die vragmotor het eers ’n paar meter verder tot stilstand gekom nadat die bestuurder die slag gehoor het. Die bestuurder het toe eers besef dat hy die Ferreiras se motor onder die vragmotor saamsleep.”

Die geliefde onderwyser van Vanderbijlpark wat die naweek op slag dood is in ’n motorongeluk, sou oor minder as twee maande getrou het.

Die noodlottige ongeluk, wat Gerbrandt Ferreira (31) en sy ma, Magda (63), se lewe geëis het, het Saterdag (20/04) naby die berugte kruising van die R42 en R57 by Vanderbijlpark plaasgevind nadat ’n vragmotor hulle voertuig getref het. Die kruising staan ook bekend as die “kruising van die dood”.

Ferreira, wat ’n vyfjarige het, was die afgelope vier jaar ’n onderwyser aan die Hoërskool Driehoek en sy ma ’n oudonderwyseres.

‘Die kinders was mal oor hom omdat hy op hulle vlak kon kommunikeer. Hy laat ’n groot leemte, veral by die rugby en die krieket’

Die vragmotor het eers ’n paar meter verder tot stilstand gekom nadat die bestuurder die slag gehoor het. “Die bestuurder het toe eers besef dat hy die Ferreiras se motor onder die vragmotor saamsleep,” het kol. Noxolo Kwena gesê.

“Die passasiers was in die motor vasgekeer en is op slag dood.” Die vragmotorbestuurder het na bewering nie by die kruising stilgehou nie, sê Kwena.

Magda het op die dag van die botsing van Koster na Vanderbijlpark verhuis om nader aan haar seun en kleinseun te wees.

Gerbrandt Ferreira en sy verloofde, Ferylynn van den Berg. Foto verskaf

Ferreira se verloofde, Ferylynn van den Berg, sê sy is stukkend. Die paartjie, wat net langer as ’n jaar saam was, sou in Junie vanjaar getrou het. “Die Here het jou kom haal,” skryf sy op Facebook.

“Jy’t my die beste daggies van my lewe gegee; 486 dae se onbeskryflike geluk. My hart is gebreek, en ek stry om woorde te vind sodat ek die diepte van my hartseer kan uitdruk. Jy is en sal vir altyd my droomman bly.”

Ferreira, wat Engels, sosiale wetenskap en geografie gegee het, was altyd ’n “happy chappy” en nooit nors nie, sê Ricardo Erasmus, skoolhoof van die Hoërskool Driehoek. “Ferreira was ’n vriendelike en aangename onderwyser.

Roné Groenewald (17)

“Die kinders was mal oor hom omdat hy op hulle vlak kon kommunikeer. Hy laat ’n groot leemte, veral by die rugby en die krieket.”

Begrafnisreëlings is nog nie tref nie omdat hulle vir familie uit Londen wag.

In September was Roné Groenewald (17) en haar vriend (22), wie se familie verkies dat sy naam nie genoem word nie, ook in ’n ongeluk by dié “kruising van die dood” betrokke.

Die twee jong mense is op slag dood nadat hulle motor met ’n Cherry Tiggo Pro 4 gebots het. Die insittendes van die Cherry het die ongeluk oorleef. Groenewald was ’n leerder aan die Hoërskool Driehoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.