On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Tuinwerker gesoek ná aanval op bejaarde van Parys

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Fri, 19 Apr 2024

Tuinwerker gesoek ná aanval op bejaarde van Parys | News Article
Foto iStock

“Die man het glo omstreeks 10:00 toiletpapier by haar kom vra. Sy het vir hom oopgesluit, waarna hy haar toe oorval en aangerand het.”

Die polisie in Parys vra die publiek se hulp om ’n man op te spoor wat na bewering ’n bejaarde vrou van Parys aangerand en beroof het nadat sy hom in haar tuin laat werk het.

Die bejaarde (83), wie se naam nie bekendgemaak is nie, het die man Dinsdag (16/4) in haar erf toegelaat om te help met tuinwerk, sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Sy het haarself in die huis toegesluit terwyl hy in die tuin gewerk het.”

‘Sy is nie ernstig beseer nie’

Die man het glo omstreeks 10:00 toiletpapier by haar kom vra. Sy het vir hom oopgesluit, waarna hy haar toe oorval en aangerand het. Sy is nie ernstig beseer nie. Hy het gevlug met geld en haar selfoon. Hy is klein gebou en het ’n bruin baadjie, langbroek en netjiese skoene aangehad. 

Enigeen met inligting kan kapt. Gert Bruwer by 082 466 8090 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 1011.

Daleen Cameron is in 2021 vermoor. Foto: Facebook

Dit is nie die eerste keer dat ’n Vrystaatse vrou deur haar tuinwerker aangeval word nie. In November 2021 is Daleen Cameron (67) van Bayswater, Bloemfontein, deur haar tuinwerker vermoor.

Volgens die lykskouingsverslag het Joseph Mokhoele (40) haar keel byna van oor tot oor oopgesny. Die geweld was so erg dat die mes se lem haar een nekwerwel ingedring het.

Hy is in die hooggeregshof in Bloemfontein lewenslank tronkstraf opgelê deur regter Lani Opperman. Hy het ook 18 jaar tronkstraf gekry vir roof met verswarende omstandighede.

Carmen van der Westhuizen is in 2013 vermoor. Foto verskaf

’n Vrou van Welkom is ook deur haar tuinwerker vermoor nadat sy haar twee kinders by die skool afgelaai het. Carmen van der Westhuizen (38) is op 7 Februarie 2013 in die kombuis oorval en haar kop is met ’n byl of panga oopgekap. Haar keel is ook afgesny.

Haar man, Pieter, het op haar liggaam afgekom. Paul Nqakalatsane (23) is drie dae ná sy verhoor begin het, skuldig bevind aan moord en seksuele aanranding en lewenslank tronk toe gestuur.

OFM Nuus/Charné van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.