Central SA
Verdagtes, ook polisiebeampte, in hof verwag ná Mohammeds se ontvoering─── HEIDRÈ MALGAS 09:22 Sun, 07 Apr 2024

“Die aantal verdagtes in aanhouding bly ses.”
Ses van die verdagtes wat aangekla word van die ontvoering van die Mohammed-tieners sal na verwagting Maandag (8/4) voor die Brits-landdroshof verskyn om aansoek om borgtog en regsverteenwoordiging te doen.
Onder die ses verdagtes is ’n polisiesersant met 18 jaar ondervinding in die polisiediens.
Die verdagtes in die saak is Nathaniel Mokwena (41), Sendry Phage (58), Virgilo Hlongwane (33), Nkanyiso Hadebe (25), Boitumelo Bogatsu (44) en Thuloane Makume (47), die polisiesersant verbonde aan die Letlhabile-speurders.
Bataviya Mohammed (19) en die minderjarige 17-jarige familielid is op Woensdag 6 Maart, op pad skool toe, ontvoer.
Die Mercedes-Benz, waarin die tieners skool toe gery het, was in ’n botsing met ’n donkerrooi Audi A3 en die bestuurder is gedwing om stil te hou. Twee gewapende mans het na bewering die tieners uit hul voertuig na ’n wit VW Polo gedwing, wat agter die Audi gestaan het.
Die bestuurder van die Audi het in ’n Toyota Hilux geklim, wat na bewering deur nog ’n verdagte, Humphrey Martin (48), bestuur is. Die ander verdagtes het gevlug en die Mercedes-Benz en die Audi A3 is agtergelaat. ’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die Audi A3 glo in Maart in Garsfontein, Pretoria, gesteel is.
Ten tyde van die slagoffers se vrylating Maandagaand (25/3) is ses persone in hegtenis geneem.
Die slagoffers “is deur paramedici by die Klipgat-polisiekantoor ondersoek. Afgesien van uitputting en trauma, is hulle ongedeerd,” het Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder, gesê.
•Kidnapped Brits teens reunited with their families:
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) March 26, 2024
Zahraa Mohammed (17) and Bataviya Mohammed (19) were kidnapped on Wednesday, 6 March en-route to school.
The two were found on Monday evening, in a house at New Stands, Klipgat near Winterveldt and Mabopane, far north of…
“Martin, die vermeende bestuurder van die Hilux, is al in die vroeë oggendure van Vrydag 8 Maart, by Naturena, in Johannesburg, in hegtenis geneem.”
Hy het reeds op 11, 18 en 25 Maart in die Brits-landdroshof verskyn. “Hy bly in aanhouding en sal na verwagting weer op Maandag 8 April vir formele borgtogaansoek verskyn.”
“Die aantal verdagtes in aanhouding bly ses. Dit volg nadat twee van die aanvanklike ses verdagtes wat op Maandag 25 Maart in hegtenis geneem is, vrygelaat is ná deeglike onderhoude,” het Mokgwabone gesê.
Nog twee inhegtenisnemings het op Dinsdag 26 Maart gevolg. Die verdagtes sluit in die polisiesersant verbonde aan die Letlhabile-speurders.