Central SA
Herrie oor omstrede onkruiddoder vir Vaalrivier se waterslaai─── 16:34 Thu, 22 Feb 2024

Die onkruiddoder bevat glifosaat wat deur die WGO as ‘moontlik kankerwekkend’ gekategoriseer is.
’n Herrie het onstaan nadat onkruiddoder wat verlede week deur Rand Water op indringerplante op die Vaalrivier gespuit is, dalk mag bydra tot drinkwater- en lugbesoedeling en selfs neurologiese siektes kan veroorsaak.
Die onkruiddoder bevat glifosaat wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as ‘moontlik kankerwekkend’ gekategoriseer is.
Bettina Genthe, 'n omgewingsgesondheidskonsultant, het aan Daily Maverick gesê onlangse studies toon hierdie chemiese onkruiddoder kan drinkwaterbronne en lug besoedel.
“As Rand Water glifosaat slegs as 'n tussentydse maatreël gebruik en dit nie gereeld spuit nie, sal dit minder skadelik wees. As die dosis herhaaldelik gespuit is, het dit 'n hoër dosis in totaal tot gevolg.”
‘Bootvaart en visvang nie meer moontlik’
Dele van die Vaalrivier is die afgelope paar maande oortrek met waterslaai, 'n hoogs indringende, vryswewende varswateronkruid wat waterweë verstop en aktiwiteite soos bootvaart en visvang onmoontlik maak.
Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing, en Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, sê in ’n gesamentlike verklaring hulle neem kennis van die kommer oor die toediening van ’n chemiese onkruiddoder.
Waterweë in die Vaalrivier is erg verstop deur waterslaai-indringerplante. Foto: Facebook
“Ons onderneem om 'n toekomsplan te beraam wat verseker die skoonmaak van indringerplante word gedoen op ’n wyse wat geen skade vir die omgewing inhou nie,” sê hulle.
Rand Water verskaf drinkwater aan meer as 11 miljoen mense in Gauteng, dele van die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga.
‘Biologiese plaagbeheer deur insekte’
Rand Water het buiten die sproei van onkruiddoder ook sowat 400 kalanderinsekte as biologiese beheermiddel vrygestel om die indringerplante te beheer.
“Onder ideale toestande is dit veiliger om net biologiese beheer toe te pas,” het dr. Leslie Hoy, Rand Water se omgewingshoof, op ’n mediakonferensie by Stonehaven aan die Vaalrivier gesê.
“Dit is egter ’n groot mat (van waterslaai) wat ’n invloed het op mense se lewensbestaan, toerisme en mense wat staatmaak op visvang. Ek verstaan mense se kommer oor glifosaat, maar ons probeer die beste ding doen wat ons kan."
Onkruiddoder word oor die waterslaai-indringerplante in die Vaalrivier gespuit. Foto: Vaal River Rats South Africa/Facebook
Dr. Anthony Turton, omgewings-en-waterkenner aan die Universiteit van die Vrystaat, het aan Daily Maverick gesê hy is gekant teen die toediening van glifosaat, dat die gebruik daarvan “onverantwoordelik” is en die “voorsorgbeginsel” eerder moet seëvier.
‘Gebruik van glifosaat onverantwoordelik’
“Die onderliggende oorsaak van hierdie probleem is dat die water in die Vaalrivier hoë vlakke van voedingstowwe het wat veroorsaak word deur rioolvuil, landbou-afloop en industriële afval wat in die rivier vloei, wat 'n ideale omgewing skep vir indringers om te versprei.”
Prof. Julie Coetzee, adjunkdirekteur by die Sentrum vir Biologiese Beheer, het tydens die vrystelling van die kalanderinsekte by Stonehaven gesê hoewel sy nie "dink chemiese bespuiting is noodwendig 'n goeie ding nie" is sy bly Rand Water se langtermynplan stel biologiese beheer voorop.
Inwoners langs die Vaalrivier het ook probeer om die waterslaai fisiek met nette te verwyder. Vaalweekblad berig lede van sportklubs aan die Vaalrivier, die gastehuisbedryf en oewerbewoners werk hard om soveel plante as moontlik uit die water te skep, na die oewer te bring en te vernietig.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg