Central SA
Spesiale ondersoek na lotery-bedrog van R1,4 miljard in Noord-Kaap─── 12:55 Thu, 22 Feb 2024
“’n Fluitjieblaser beweer dat hulle ‘gedokterde’ finansiële state uitreik.”
Lede van die spesiale ondersoek eenheid (SOE) en die Valke het op die kantoor van ’n rekenmeestersfirma in Kimberley toegeslaan. Hulle was op soek na bewysstukke wat kan help met die ondersoeke van die Nasionale Loterykommissie (NLK) om bedrog bloot te lê.
‘Gedokterde finansiële state word glo uitgereik’
Bewerings is gemaak dat sekere boekhouersfirmas en rekenmeesters betrokke is by bedrog van honderdmiljoene rand, sê Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder. “’n Fluitjieblaser beweer dat hulle ‘gedokterde’ finansiële state uitreik aan organisasies en maatskappye sonder winsoogmerk om geld van die NLK te bekom.”
Dit het aan die lig gekom dat die direkteure en of verteenwoordigers van die betrokke firma die state voorberei, opgestel en afgeteken het sonder voorlegging van enige bankstate. Die waarde van die beweerde bedrog beloop ongeveer R1,4 miljard.
Die SOE ondersoek bedrof van honderdmiljoene rand. Foto verskaf
Nadat die Valke die wenke ontvang het, het hulle ’n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging van die landdroshof in Kimberley ontvang. Volgens Kganyago het lede van die Valke en SOE hierna ’n klopjag op die firma uitgevoer. Die wetstoepassers het beslag gelê op skootrekenaars en relevante dokumente wat hulle kan help in die ondersoek.
Regtens moet aansoekers bankstate en volledig voltooide aansoekvorms aan die NLK voorlê voordat finansiering oorweeg en toegeken word. Kganyago was nie vir verdere kommentaar beskikbaar nie.
• In Maart 2022, het dieselfde wetstoepassers op die NLK se kantoor in Kimberley toegeslaan. Toe het ’n fluitjieblaser ook beweer dat van die NLK-amptenary betrokke was by bedrog en/of korrupsie rakende loteryfinansiering.