Central SA
Block te platsak om vir lastersaak te betaal─── 16:03 Fri, 09 Feb 2024
“Dit is onregverdig om van Block te verwag om hierdie bedrag te betaal. Dit verg diep sakke.”
John Block, voormalige provinsiale voorsitter van die ANC, wat in die gesig gestaar word deur ’n lastersaak van R1.5 miljoen, kan glo nie die eis betaal wat deur die afgetrede regterpresident van die Noord-Kaapse hooggeregshof Frans Kgomo ingestel is nie.
Die saak wat teen Block, sy voormalige regsverteenwoordiger, wyle Dali Mjila, en nog ’n prokureur, Nano Matlala, aanhangig gemaak is, is van ’n aanvanklike bedrag van R2,5 miljoen verminder.
Lulama Lobi, Block se regsverteenwoordiger, het vandeesweek tydens slotargumente in die hooggeregshof in Kimberley laat weet dat sy kliënt “net finansieel oorleef”. “Dit is onregverdig om van Block te verwag om hierdie bedrag te betaal. Dit verg diep sakke.”
Block was destyds ’n hoëprofiel- politieke leier toe die lasterlike bewerings deur die media aan die publiek versprei is. Lobi het weer gesê dat sy kliënt, in navolging van sy wettige regte op ’n regverdige verhoor, ’n aansoek gebring het om die aanklagte teen hom te laat terugtrek.
Hy het navraag gedoen oor hoekom Kgomo besig is met ’n saak wat sewe jaar gelede plaasgevind het. “Block was bereid om regter Kgomo om verskoning te vra. ’n Sentrale figuur in die beweerde laster is nie meer (Mjila) nie en niemand kan sy weergawe uitdaag nie.”
OFM Nuus/James Williams dg