Click on the warning image to view this post
Central SA
Ongeluk met saag vermink jong Vanderbijlpark-man se hand─── KAREN VAN DER BERG 13:48 Thu, 08 Feb 2024
“Sy verminkte duim en pinkie het net aan die velle gehang. Sy middelvinger is by die eerste kneukel afgesny en sy ringvinger by die onderste kneukel.”
WAARSKUWING: Die foto’s kan sensitiewe mense ontstel.
’n Fratsongeluk met ’n rolsaag het ’n groot vraagteken geplaas oor die toekoms van ’n jong man van Vanderbijlpark.
Hendrik Swart (26) was Maandagoggend 29 Januarie besig met houtwerk by sy ouerhuis in Mullerstuine toe sy regterhand onder die rolsaag beland en vermink is.
Sy ma, Daulina Swart, sê die ergste van alles is dat hy eersdaags na Amerika sou gegaan het om daar te werk om geld te verdien. Dié droom lê nou aan skerwe.
Daulina sê sy was nie tuis toe die ongeluk gebeur het nie. Hendrik is ook nie seker presies wat gebeur het nie. Hulle vermoed wel hy het van iets flou geword. “Hy en sy pa was besig om tuinmeubels te maak vir gastehuise.” Sy pa, Koos, het self ’n paar jaar gelede sy been verloor toe hy in ’n ongeluk met ’n vragmotor was.
“Sy verminkte duim en pinkie het net aan die velle gehang. Sy middelvinger is by die eerste kneukel afgesny en sy ringvinger by die onderste kneukel.” Foto verskaf
“Gelukkig kan Koos ondanks sy gestremdheid bestuur en het hom dadelik na die Johan Heyns-kliniek geneem.”
Sy sê hulle het twee uur by die kliniek gewag en is daarna per ambulans na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas. “Sy verminkte duim en pinkie het net aan die velle gehang. Sy middelvinger is by die eerste kneukel afgesny en sy ringvinger by die onderste kneukel. Slegs sy wysvinger het nie seergekry nie. Daar is ook ’n diep sny oor sy hele handpalm en al die senuwees is afgesny.
’n Weermagdokter se vinnige optrede by dié hospitaal het gemaak dat sy pinkie en duim dadelik onder plaaslike verdowing geamputeer is. Hulle was albei reeds swart. Hy het ook steke gekry sodat die bloeding kon stop.
’n Dokter, wat Hendrik Swart verlede week ondersoek het, was geskok om te sien dat sy hand geen verdere behandeling ontvang het nie. Foto verskaf
Daulina sê hulle is dankbaar vir die hulp van die dokter, want sedertdien het Hendrik nie baie goeie behandeling kon kry nie. Elke dag word vir hom gesê hy mag nie eet nie, want hulle sê hy gaan geopereer word. Dan gebeur niks.
’n Dokter, wat Hendrik verlede week ondersoek het, was geskok om te sien dat sy hand geen verdere behandeling ontvang het nie. “Die dokter het gereël dat hy na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas word. Daar het hulle gesê hulle kan niks vir hom doen nie en hy is terug Sebokong toe, waar hy steeds lê.”
Hendrik Swart se hand is vermink ná die ongeluk. Foto verskaf
Daunlina sê die toekoms is duister vir Hendrik. “Geldelik kan ons nie vir hom voorsien nie. Ons weet regtig nie wat gaan gebeur nie. Vir nou wil ons hom net graag ’n private hospitaal kry waar hy gehelp kan word.”
Vaalweekblad berig Hendrik het ná skool in Amerika en Kanada by dorpskarnavalle gewerk om geld vir sy gesin te verdien. Hy het juis gewag vir goedkeuring om volgende jaar weer te gaan. Dié planne is egter nou permanent van die baan omdat mense met gestremdhede nie oorweeg word nie.
OFM Nuus/Karen van der Berg dg