On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Emoyamed Bloemfontein wil uitsonderlike mediese sorg lewer

───   ZENANDE MPAME 09:16 Wed, 07 Feb 2024

Emoyamed Bloemfontein wil uitsonderlike mediese sorg lewer | News Article
William du Plessis, Annabe le Roux, Elmien du Plessis en dr. Franco Erasmus van Emoyamed Bloemfontein. Foto: Zenande Mpame

“Ons wil dienste van topgehalte aan die gemeenskap lewer.”

Die private hospitaal Emoyamed het Maandag (5/2) sy nuwe bestuur en sy nuwe naam op sy perseel in Groenvlei, Bloemfontein, bekendgemaak. Die naam van die hospitaal het verander van Emoyamed Private Hospitaal na Emoyamed Bloemfontein. Dit het Donderdag (1/2) met sy bedrywighede begin.

Dr. Franco Erasmus, hospitaalbestuurder, sê die personeel sien daarna uit om die hospitaal se spesialis- mediese dienste te begin verskaf en hulle hoop om aan Sentraal-Suid-Afrika se pasiënte uitstaande sorg te bied.

Dr. Franco Erasmus is Emoyamed Bloemfontein se nuwe hospitaalbestuurder. Foto: Zenande Mpame 

“Ons is baie opgewonde oor die hospitaal en sy pogings; dit is ’n stil en rustige plek om te genees. Familielede van pasiënte kan by die spa en hotel kom bly, terwyl hulle (pasiënte) gesond word,” sê hy.

“Emoyamed Bloemfontein is gereed om in die mediese behoeftes van ons gemeenskap te voorsien en sal uitgebreide maatreëls tref om die veiligheid van ons pasiënte, personeel en dokters te verseker. Ons glo werklik dat die hospitaal die Bloemfonteinse gemeenskap breër toegang tot veilige, private mediese sorg sal bied.”

Die hospitaal het drie moderne operasiesale, 17 intensiewesorgeenhede, 55 akutesorgeenhede, 19 akute rehabilitasie-eenhede en 25 subakute eenhede. Hy is ook gelisensieer om hierdie eenhede te bedryf. Daar is ook planne om die noodsentrum binnekort te heropen.

Emoyamed Bloemfontein spog met moderne toerusting. Foto: Zenande Mpame 

Die operasiesale is toegerus met laminêre vloei wat verhoed dat bakterieë in oop wonde kom, asook om bakterieë aan blootgestelde chirurgiese instrumente, chirurge en die pasiënt se vel te verwyder en te verminder.

“Die hospitaal spesialiseer in al die dissiplines soos rumatologie, neurologie, onkologie, algemene chirurgie, ortopediese chirurgie, neurochirurgie, ginekologie en plastiese chirurgie, om maar ’n paar te noem.

“Ons is trots daarop om ’n rehabilitasiesaal van 19 beddens te hê waarheen mense met ruggraatbeserings en ander ernstige siektes vir ’n volle herstel en volle rehabilitasie kan kom.”

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.