Central SA
Hoërskool Diamantveld so hittete 90 jaar oud─── 12:33 Tue, 30 Jan 2024

In 1936 is die skool herdoop van Hoërskool Kimberley na Hoërskool Diamantveld.
’n Ryke geskiedenis van oor die honderd jaar is verbonde aan die perseel waarop een van die Noord-Kaap se topskole vandag staan, maar die Hoërskool Diamantveld het pas sy 89ste bestaansjaar gevier.
Die skool is op 28 Januarie 1935 gestig met hulp en ondersteuning van enkele pioniers soos ds. J.R. Albertyn, wat hom as predikant van die NG Gemeente Albertyn beywer het vir die opheffing van behoeftige gesinne, F. van Rensburg en ander het dit met 51 leerders in st. 7 en st. 8 en vier onderwysers begin in die ou gebou van die Diamantstad se gewese Engelse onderwyskollege.
Oorkant die skool is die gedenkteken vir gesneuwelde Britse soldate. Foto verskaf
Die gedenkteken oorkant die skool is ’n herinnering aan die Britse soldate wat hul lewe verloor het tydens die Beleg van Kimberley van 14 Oktober 1899 tot 15 Februarie 1900 toe die Boeremagte die stad omsingel het.
In 1936 is die skool herdoop van die Hoërskool Kimberley na die Hoërskool Diamantveld. Die skool het gegroei van 600 leerders in 1970 tot 890 leerders. Leerders kom nie net uit die stad en omliggende gebied nie, maar ook uit ander provinsies. As een van die grootste hoërskole in die Noord-Kaap blink Diamantveld uit in sport, akademie sowel as kultuur.
Die Hoërskool Diamantveld was voorheen die Hoërskool Kimberley. Foto verskaf
Janco Steenkamp, woordvoerder, sê die skool het ook nuwe vakke by die skoolkurrikulum gevoeg soos landbou. Hy voorsien groei en vooruitgang vir Diamantveld in die volgende vyf jaar.
Van ’n eenvoudige begin af het Hoërskool Diamantveld ontwikkel tot een van die voorste hoërskole in die ou Kaapprovinsie en die huidige Noord-Kaap, wat ’n belangrike bydrae lewer op elke gebied. Die talle oudstudente wat beduidende bydraes in samelewings wêreldwyd lewer, is lewende getuies van die skool se leuse: A Posse ad Esse, oftewel van ’n moontlikheid tot ’n werklikheid.
OFM NUUS/Ashley Snyders dg