On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Baie trane op begrafnis van vermoorde weduwee

───   KAREN VAN DER BERG 08:20 Fri, 01 Dec 2023

Baie trane op begrafnis van vermoorde weduwee | News Article
Die begrafnis program van Marilize Bosman. Foto: Verskaf.

“Ons vra dat U met hulle sal gaan wat agtergebly het. Ons bid ook veral vir ’n weeskind wat alleen die lewe moet ingaan.”

Daar was nie ’n droë oog toe die lied, Nader my God by U, Donderdag (30/11) by die begrafnis van Marilize Bosman (39) gespeel is nie. Bosman, ’n weduwee, is verlede Vrydag in Hartbeesfontein, in Noordwes, vermoor. Sy is noodlottig geskiet toe sy haar dogter, Li-Mari (15), gewaarsku het om weg te hardloop en te vlug toe hulle deur inbrekers in hulle huis oorval is. Hulle het alleen gebly.

Die begrafnis by die Christelike Vereniging van Suid-Afrika in Klerksdorp is deur tientalle mense bygewoon. Die teraardebestelling is daarna in Roosheuwel begraafplaas gedoen. Li-Mari het baie dapper gehelp om haar ma se wit kis met pragtige blomme bo-op, by die graf te dra. Marilize se pa, Fanie Bosman en haar twee susters, Madelene Booysen en Nicolene Bosman was ook draers by die graf en het haar deurlopend ondersteun.

In ’n roerende gebed, het Fanie Visagie, die leraar, by die oop graf gebid, en gesê hulle is dankbaar vir die amper 40 jaar wat Marilize vir haar familie geleen is. “Baie dankie dat ons weet, U is saam met ons, U is in beheer. Niks word uit U hand uit geruk nie.”

Haar begrafnis het gewys daar is baie mense wat vir ander omgee. Foto verskaf

Hy het ook gesê hoewel daar harte is wat stukkend is, sal die Here Sy kinders nie los nie. Nie vergeet nie.

“Ons vra dat U met hulle sal gaan wat agter gebly het. Ons bid ook veral vir ’n weeskind wat alleen die lewe moet ingaan.”

Francois Botha, ’n goeie vriend en kollega, sê die diens was baie mooi en alles het vlot verloop. “ ’n Mens kan amper nie glo hoeveel mense en vriende ’n mens regtig het nie. Mense wat jou sal bystaan. Haar begrafnis het gewys daar is baie mense wat vir ander omgee, al lyk dit nie altyd so nie.”

OFM Nuus/Karen van der Berg Corné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.