Central SA
Apteker van Bloemfontein oorleef meer as dosyn hartstilstande─── HEIDRÈ MALGAS 11:08 Wed, 29 Nov 2023

“Ek het baie gebid en gevra dat as dit my ‘tyd’ was om te gaan, die Here my kinders in die toekoms sou help.”
’n Bloemfonteinse apteker met ’n geskiedenis van hartprobleme se hart het reeds meer as 15 keer gaan staan.
Sy is in Maart opgeneem in die Rosepark-hospitaal weens hartversaking. Ná behandeling is sy ontslaan met medikasie, sê Lucy van der Merwe (61). “Ek het ’n geskiedenis van hartprobleme en het ’n mitraalklepvervanging gehad in 2018.”
Haar opvolgdatum ná die hospitaalopname in Maart was 18 Mei. Sy het agteruitgegaan en die medikasie het die proses net vererger. Sy was doodmoeg en het hartkloppings en benoudheid ervaar, veral snags.
“Ek is dadelik weer opgeneem op 18 Mei. Die dokter se aanbeveling was ’n ablasie of ’n hartoorplanting. My hartkapasiteit was 23%, my polsslag was 140+ en my linkerventrikel was vergroot.”
Lucy van der Merwe is in Maart in die Rosepark-hospitaal opgeneem weens hartversaking. Foto verskaf
’n Ablasie verwys na die verwydering of vernietiging van biologiese weefsel, gewoonlik deur 'n chirurgiese of mediese prosedure.
Sy is behandel en sou Maandag 22 Mei toetse ondergaan het om daarna na Gauteng verwys te word vir ablasie, aangesien die prosedure slegs daar en in die Kaap uitgevoer word. Maar daardie dag het sy skielik haar bewussyn verloor.
“Ek het wakker geword met die hele mediese span om my bed; hulle het my geresussiteer en elektries geskok. Teen sesuur die volgende oggend het my hart nog drie keer gaan staan en deur die loop van die oggend het hierdie episodes vyf keer plaasgevind, ’n sesde keer in die hartkateterisasie-laboratorium en ’n sewende keer weer in die intensiewesorgeenheid. Elke keer het hulle my hart weer geskok,” vertel Van der Merwe.
Lucy van der Merwe is die middag na die teater oorgeplaas vir ’n tydelike pasaangeër. Foto verskaf
Sy is die middag na die teater oorgeplaas vir ’n tydelike pasaangeër om die episodes te beheer en haar te stabiliseer vir ’n vlug na Centurion. “Op die operasietafel het my hart nog ses keer gestop. Die laaste episode, in totaal die vyftiende keer, het plaasgevind nadat ek terug was in die ICU.”
Die episodes was baie naby mekaar, en sy kon dit voel aankom. “Ek het baie gebid en gevra dat as dit my ‘tyd’ was om te gaan, die Here my kinders in die toekoms sou help.
“Dit het later ondraaglik geraak en ek het begin bid dat ek gereed is om te gaan ... ek kon nie meer nie. My dogter se troue op 4 November het nog voorgelê en ek het daaraan gedink en dat ek daar sou wou wees ... as dit Sy wil is.”
Lucy van der Merwe kon haar dogter se troudag beleef. Foto verskaf
Van der Merwe beskryf die personeel in Rosepark se kardiologiese hoësorgeenheid as “ongelooflik”. “Gedurende die episodes was hulle heeltyd langs my bed en het letterlik my lewe elke keer gered.”
Dit gaan baie beter met haar ná die ablasieprosedure en die installering van die pasaangeër met defibrillator wat sy in die Midstream Mediclinic Centurion ondergaan het.
Sy probeer deesdae meer oefening doen en ’n gesonde eetgewoonte volg, “hoewel my geval nie sou wees as gevolg van my lewenstyl nie. Minder stres en meer rus help baie en my kardioloog het aanbeveel dat ek stop met werk.”
Sedert dié ontbering is elke dag “’n genade en ’n geskenk van ons Vader. Om in die oggend wakker te word, is nog ’n kans om te lewe.” Sy is nou terdeë bewus daarvan dat die lewe kort kan wees, “dat ons nie weet wat môre gaan gebeur nie, en dat elke dag ’n geskenk van Bo is”.
OFM Nuus/Heidre Malgas Corné/Daphné