On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat-plaas inspirasie vir sanger se nuwe lied – VIDEO

───   KAREN VAN DER BERG 08:38 Fri, 10 Nov 2023

Vrystaat-plaas inspirasie vir sanger se nuwe lied – VIDEO | News Article
Christof van der Berg het die plaas Witraal naby Petrusburg gebruik vir sy nuwe musiekvideo. Die plaaswerkers het gehelp om die video te maak. Foto verskaf

“Dit is die grond waarop hulle grootgeword het, dit is die plaas wat hulle so goed ken.”

“Ons is bloot kanale vir die groter kreatiewe bron, en wat jou volgende kreatiewe opdrag is, is nie altyd duidelik nie.”

Aan die woord is Christof van der Berg (37), pianis en sanger, wie se nuwe Afrikaanse musiekvideo van sy liedjie “Wil jy sien hoe lyk die hemel?” Vrydag (10/11) uitgereik is.

Die liedjie en video het ’n eg Vrystaatse smaak en die familieplaas Witkraal in die distrik Petrusburg, waar Christof grootgeword het, was dié keer sy bron van kreatiwiteit, vertel hy. 

Hy het die plaaswerkers ingespan met die maak van die musiekvideo. Die manne, wat gewoond daaraan is om met skape en beeste te werk, turksvye te plant en te versorg en sout op die plaas se soutpanne uit te haal, het dié keer ingespring en hulle lyf akteur, kameraman of stelbouer gehou.

Christof van der Berg, het die plaas Witraal naby Petrusburg gebruik vir sy nuwe musiekvideo. Die plaaswerkers het gehelp om die video te maak. Foto verskaf

“Die omgewing en die mense met wie ek te doen het, is altyd belangrik en ek wil hulle graag deel daarvan maak.” Christof sê om die plaaswerkers te betrek, was ’n logiese stap. “Dit is die grond waarop hulle grootgeword het; dit is die plaas wat hulle so goed ken. Hulle ken elke hoekie.”

Die mans het die video binne een dag met drie selfone verfilm. Hulle het Christof se vleuelklavier, wat hy self gebou het, op ’n trekker en wa op die plaas rondgery. Hulle het na al die “poëtiese plekke”, soos die soutpanne, erosieduine en pekkanneutboorde op die plaas gery en daar verfilm.

Christof van der Berg se plaaswerkers het hom gehelp om ’n vleuelklavier op ’n bros erosieduindie te balanseer. Foto verskaf

“Dit was wel ’n uitdaging om ’n vleuelklavier te balanseer op ’n bros erosieduin, of om hom te dra tot in die middel van ’n soutpan, of om ’n windpomp te klim in ’n pikswart pak, maar die span was slaggereed vir die onverwagte.”

Hy sê ’n paar verwarde Sotho-woorde wat vertaal kan word met "Wat op aarde doen hy nou?" het vir vele lagbuie gesorg. “Ons almal se liefde vir Witkraal en sy soutpanne was tasbaar in die lug.”


Christof gebruik nou die plaas as ’n basis waar hy liedjies kan skryf omdat dit so sentraal is. “Die ou plaashuis van Witkraal is omskep in ’n ateljee vir al sy nuwe opnames.

Die plaas produseer hoofsaaklik sout en dit word ook deel van sy inspirasie en die metafore wat hy in sy werk gebruik. “Sout gee smaak, sout maak skoon en sout maak ook wonde gesond,” sê hy.

Hy hou ook nog konserte saam met sy gewilde groep, Shades of Africa, maar wil graag elke dorp of stad in Suid-Afrika as deel van sy solotoer besoek met sy Afrikaanse optrede.

OFM Nuus/Karen van der Berg Corné/Morné


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.