On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Skok ná brand Lichtenburgse museum verwoes

───   KAREN VAN DER BERG 10:59 Wed, 25 Oct 2023

Skok ná brand Lichtenburgse museum verwoes | News Article
’n Brand het Lichtenburg se kultuurhistoriese museum in puin gelê. Foto: Facebook

“Dit is verskriklik hartseer. Daar was selfs ook rotskuns van groot waarde wat nou vernietig is.”

’n Stukkie onvervangbare erfenis, kultuur, geskiedenis en sentiment het Dinsdagaand (24/10) in vlamme opgegaan toe ’n brand Lichtenburg se Ampie Bosman- Kultuurhistoriese Museum en ’n deel van die stadsaal vernietig het.

Ernst Kleynhans, VF Pluswetgewerlid in Noordwes, sê dit is ’n bewys dat niks wat enige kulturele waarde het aan die sorg van die ANC-regering toevertrou kan word nie.

Volgens geskokte inwoners van die dorp wat moes toekyk hoe dit brand, het die brandweerwa wat daar was, nie water gehad nie.

Die ingang na wat tot Dinsdagaand Lichtenburg se kultuurhistoriese museum was. Foto verskaf

“Die private sektor moes ingryp en met hul brandbestrydingstoerusting die vlamme kom beveg,” sê Kleynhans. Ten einde raad moes die hulp van omliggende dorpe se brandweer ontbied word wat eers heelwat later opgedaag het.

Kleynhans sê die omvang van die skade moet nog bepaal word. “Die hele museum is beslis in puin gelê en ’n gedeelte van die stadsaal wat se dak gebrand het.”

Die waarde van die museum is iets wat nie vervang kan word nie. “Daar was uitstallings oor die stigting van Lichtenburg in 1873, sy ryk diamantgeskiedenis, genl. De la Rey en die beleg van die dorp in die Anglo-Boereoorlog.”

Die wa waarmee Nonnie de la Rey, eggenote van genl. Koos de la Rey, en haar kinders van Desember 1900 tot Mei 1902 voor die Engelse uitgevlug het, het ook in die slag gebly. Foto: Jackie Grobler-versameling

“Dit is verskriklik hartseer. Daar was selfs ook rotskuns van waarde wat nou vernietig is.”

Dis belangrik dat die persone in beheer verantwoordelikheid aanvaar en die voorval as bewusmaking dien, meen hy. “Kulturele erfenisse onder munisipale beheer sal beveilig moet word. 

“Ten spyte van jare lange versoeke en waarskuwings deur die VF Plus en ander belangegroepe, is hierdie kulturele skatte weens óf onbevoegdheid, óf moedswilligheid van die ANC-beheerde munisipaliteit in so ’n mate verwaarloos gelaat in geboue wat nie behoorlik onderhou is nie.”

Van die museum met sy kosbare kultuurskatte het feitlik niks oorgebly nie. Foto verskaf

Kol. Adele Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê hawelose kinders het om 19:20 in die polisiekantoor ingehardloop om die brand aan te meld. Dit het aan die kant van die museum onstaan en versprei na die stadsaal . 

Myburgh sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word ondersoek.

OFM het navrae gerig aan Dan Mutloane van Noordwes se provinsiale rampbestuur. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.