On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse polisiebeampte van poging tot moord aangekla

───   KEKELETSO MOSEBETSI 15:02 Wed, 04 Oct 2023

Bloemfonteinse polisiebeampte van poging tot moord aangekla | News Article
Foto: Corné Greyvenstein

Die polisiebeampte het na bewering sy vuurwapen afgevuur en die deur getref in ’n poging om toegang tot die huis te bekom.

TO READ IN ENGLISH: Bloemfontein police officer of VIP Protection Unit accused of attempted murder

’n Polisiebeampte van Bloemfontein, verbonde aan die beskermingsdienste vir hooggeplaastes, staan tereg op aanklagte van poging tot moord nadat hy ’n vuurwapen in die openbaar afgevuur het.

Vusimuzi Matthews Makhaza (49) is op ’n waarskuwing vrygelaat. Hy het Maandag (2/10) in die landdroshof in Bloemfontein verskyn nadat hy Donderdag (28/9) in hegtenis geneem is.

Die landdroshof in Bloemfontein. Foto: OFM Nuus

Robbie Raburabu, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê Makhaza, wat ’n lid van die BBP-beskermingsdienste is, het tydens sy inhegtenisneming die LUR van Tesourie in die Vrystaat na ’n geleentheid begelei. Hy is by die Mangaung-polisiekantoor aangehou voordat hy later op waarskuwing vrygelaat is.

Raburabu beweer Makhaza se inhegtenisneming het gekom ná ’n bakleiery Saterdag (16/9) by ’n taverne in Kagisanong, Bloemfontein. Die polisiebeampte is na bewering met ’n bierbottel op sy oor geslaan en het ’n besering opgedoen. Hy het glo Sondag (24/9) na die huis gegaan van die man wat hom glo aangerand het om wraak te neem. Toe hy hom nie kon opspoor nie, het hy later die aand weer teruggegaan en hom by sy vriendin gekry.

Robbie Raburabu, Opod-woordvoerder, tydens ’n onderhoud met NewsRoom Afrika, Foto: Skermskoot

Daar word beweer dat die vriendin van die man wat die polisiebeampte glo aangerand het, die deur met ’n 9-maande-oue baba in haar arms oopgemaak het. Sy het egter die deur vinnig toegemaak en gesluit toe sy die polisiebeampte met sy vuurwapen sien. Raburabu het ook beweer die polisiebeampte het sy vuurwapen afgevuur en die deur getref in ’n poging om toegang tot die huis te bekom. Die polisie is ontbied en het by die toneel opgedaag nadat die polisiebeampte weg is.

Hy sê Opod het twee dae nadat dit gebeur het, van die voorval gehoor en ’n voorlopige ondersoek gedoen. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagte. 

Mkhaza moet op 2 November weer in in die hof verskyn.

Lede van adjunkpresident Paul Mashatile se beskermingsdienste is onlangs in hegtenis geneem nadat ’n video wyd versprei is wat na bewering uitbeeld hoe hulle ongewapende mense in Fourways, Gauteng, aanrand.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.