Central SA
“7de Laan”: Akteurs waardeer aanhangers se pogings─── 16:04 Wed, 27 Sep 2023
![“7de Laan”: Akteurs waardeer aanhangers se pogings “7de Laan”: Akteurs waardeer aanhangers se pogings | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/4925d5fe-8f70-430a-be22-2495ab54c4e9.jpg?crop=0,109,600,447)
“Die 7de Laan-aanhangers se voorneme om te betoog, dui op die invloed wat die sepie op die land gehad het.”
’n Woordvoerder van die jare lange sepie 7de Laan sê die SAUK het geen planne om dit te hervat nie.
Getroue aanhangers het buite die SAUK in Auckland Park in Johannesburg betoog in ’n poging om die openbare uitsaaier te oortuig om die sepie nie te kansellleer nie. ’n Petisie sal eersdaags aan die SAUK se bestuur oorhandig word waarin geëis word dat die openbare uitsaaier dit op die lug hou.
In Julie is in ’n verklaring gesê dat die SAUK die besluit weens finansiële redes geneem het.
7de Laan bestaan al 23 jaar en sal nie vir nog ’n seisoen uitgesaai word nie. Seisoen 24 eindig in Desember.
Kayleen Bessit, woordvoerder van 7de Laan, sê die SAUK het geen aanduiding gegee dat hy sy besluit sal hersien nie.
“Die 7de Laan-aanhangers se voorneme om te betoog, dui op die invloed wat die sepie op die land gehad het. Ons as akteurs en die produksiespan is diep geraak deur hul vasberadenheid om die SAUK se besluit om te keer, en soos altyd is ons dankbaar vir hul onwrikbare ondersteuning oor die jare heen. Ons glo ons het nogal 'n beduidende aanhangersbasis opgebou.
“So, die rede waarom 7de Laan van die lug afgehaal word, is presies wat die SAUK in die openbaar aangevoer het. Hul voortdurende finansiële probleme het dit moeilik gemaak om met die produksie te kon voortgaan.
“Soos dit nou staan, gaan 7de Laan nie voort nie, en daardie besluit is finaal.”
Die program sal saam met die baie geliefde SABC3-sepie Isidingo in die asblik beland nadat dit in 2020 gestaak is.