On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Maak herwinning deel van jou daaglikse lewe

───   11:11 Wed, 19 Jul 2023

Maak herwinning deel van jou daaglikse lewe  | News Article

Het jy al ooit met jou plastiekbottels en -sakkies in die hand gestaan en gewonder waarheen jy met al die herwinbare produkte kan gaan?

Ons almal weet reeds teen die tyd, moeder Aarde kan eenvoudig nie al ons afval, plastiek en rommel hanteer nie. Tog lyk dit nie of daar in Bloemfontein en meeste Vrystaatse dorpe ’n maklike oplossing vir herwinning is nie.

Wicus Botha, die bestuurder van Coffee Talks in Bloemfontein, is ’n ywerige herwinner. Dié restaurant volg ook die benadering om alles wat hulle gebruik en benodig te herwin of weer terug te ploeg.


Botha sê meeste mense het miskien al gehoor van die drie bene van herwinning. Dit is om te herwin, te verminder en te hergebruik. “Maar daar is ook ’n vierdie konsep, en dit is eenvoudig om anders te dink oor jou gebruik. Om te dink aan ons verbintenis met die natuur en ons afval en bestuur daarvan.”

Botha sê herwinning is inderwaarheid die laaste ding waaraan jy moet dink. “Herwinning moet die laaste uitweg wees. Want hoe minder jy het om te herwin, hoe beter is dit.” Hy sê dit beteken om sodra jy daaroor begin dink, maniere te vind om jou afval aansienlik te verminder sodat afval by jou voordeur stop en nie in ’n probleem verander nie.

Die herwinningstelsel wat Coffee Talks gebruik. Foto verskaf

Botha sê dit beteken ook nie jy moet dinge kompliseer nie. “Dit word nie van mense verwag om nooit ooit weer ’n gram afval te hê nie. Dit is onmoontlik. Dit is wel net nodig vir mense om bewus te raak van die hoeveelheid onnodige vullis wat hulle skep en dit as ’n beginpunt te gebruik.”

Een van die eenvoudigste maniere is om met herwinbare sakke te gaan inkopies doen en nie plastieksakke te koop nie. Vind maniere om inkopies te doen sonder om 'n eenmalige-gebruik plastiek te gebruik. Maak ook jou waterbottel vol, eerder as om nuwes te koop. “Daar is klein dinge wat jy kan doen, wat op die einde ’n groot verskil kan maak.”

Hy sê sodra jy ’n manier gevind het om jou eie afval te verminder, is die volgende stap om te kyk hoe dit hergebruik kan word.

“As jy dit nie kan hergebruik nie, dan is daar moontlik iemand anders wat ’n nut daarvoor sal hê.” Glasbottels kan gebruik word om dinge in te stoor, of vir mense wat produkte maak daarvan. Mense moet meer kreatief begin dink. “Jou rommel kan vir iemand anders ’n skat wees. Iets wat hulle kan gebruik of voordeel daaruit kan kry. Net omdat jy dit nie gebruik nie, beteken nie iemand anders kan nie.”

Die hergebruik-stelsel wat Coffee Talks gebruik. Foto verskaf

Eers wanneer jy deur dié twee stappe is, kan jy begin herwin.

“Moet ook nie net alles in een asblik gooi nie. Skei jou vullis en gooi organiese materiaal apart van die ander.”

Hy sê in Bloemfontein is daar twee herwinningsentrums waarheen jy jou produkte kan neem. Vind by jou naaste een uit hoe hulle die produkte verkies en sorteer dit dan so.

Botha sê daar is ’n herwinningsentrum Call2Recycle in Bainslvei wat hy graag vir mense aanbeveel. “Die eienaar, Lucas Graham, verstaan presies wat die kwessies is en die slegte impak wat dit op ons natuur het.” Botha sê ongelukkig het persoonlike probleme weens siekte en die Covid-19-pandemie die sentrum byna tot stilstand gebring. Min mense weet van die sentrum en Botha is saam met ’n niewinsgewende organisasie betrokke om die sentrum weer op die been te bring. “Ons is vinnig om te dink dat ons nie ons voete by so ’n sentrum wil sit nie, want herwinningsplekke is nie noodwendig die heel skoonste en mooiste plekke nie. Baie mense wil ook nog vergoeding vir hulle produkte ontvang, wat net eenvoudig nie moontlik is nie. Mense moet onthou dat so ’n plek letterlik van jou vullis gebruik maak om ’n lewe te kan maak.”

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.