On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

'My werksetiek is te danke aan oom Louis' – Sean van Noordwyk

───   15:25 Wed, 08 Feb 2023

'My werksetiek is te danke aan oom Louis' – Sean van Noordwyk  | News Article
Sean van Noordwyk FOTO: Verskaf

Die akteur Sean van Noordwyk sê sy werksetiek en dissipline is te danke aan die veteraan-akteur Louis van Niekerk, wat Dinsdagaand 8 Februarie 2023 in die ouderdom van 87 jaar oorlede is.

Van Niekerk was tot middel 2022 nog daagliks op die stel van die kykNET-sepie Getroud met rugby, waarin hy Festus gespeel het. Dit het van hom waarskynlik die oudste werkende Afrikaanse akteur gemaak.

Die Foto’s teen die muur-akteur, wat Reitz in Getroud met rugby gespeel het, vertel: “Die eerste dag wat ek by Getroud met rugby begin het, het oom Louis vir my gekyk en hy het my met hierdie ongelooflike sterk stem gevra: ‘Maar is jy Antoinette [Kellerman] se student.’ En ek was ’n groot bewonderaar van hierdie legende. Ek het skaam dog opgewonde vir hom met my seuntjiestem geantwoord: ‘Ja.’ ”

Kellerman, Van Noordwyk se dosent aan die Universiteit Stellenbosch waar hy ’n dramagraad verwerf het, het vooraf met Van Niekerk gereël om ’n ogie oor haar jong student te hou.

Hy vertel hy en die veteraan-akteur het dadelik iets gemeen gehad danksy hul liefde vir teater en die dissipline wat dit verg om ’n professionele akteur te wees. “Ek het lank met hom gesels oor sy rol as Giel in Siener in die suburbs, wat my gunstelingdramateks van PG du Plessis is.


“Ek het vir hom gevra hoe dit was om saam met Christiaan Olwagen te werk aan Son. Maan. Sterre. en [hom vertel] hoe geskok ek was as ’n jong seun toe ek uitvind dat sy karakter in die reeks Amalia die moordenaar was, want ek het myself heeltemal te veel ingeleef as ’n twaalfjarige seun.”

Hy sê ná hulle geselsies het hy en Van Niekerk aan die werk gespring om hom reg te kry vir die kamera. “Ek sou beslis nie die akteur in Getroud met rugby gewees het as dit nie vir hom was nie.”

Die voormalige Mnr. Wêreld SA vertel iets wat Van Niekerk en Kellerman gemeen het, is dat hulle dissipline het en respek vir hulle werk. “Elke dag wat ek op die stel gestap het, was ek voorbereid en gretig om te werk, asook om nooit op te hou leer nie. My werksetiek en dissipline tot vandag toe is as gevolg van hom.”


Hy vertel op sy laaste dag op Getroud met rugby se stel het hy tydens middagete gevra of hy almal vinnig kon bedank vir sy jare by die sepie. “Oom Louis het daardie dag nie geskiet nie, maar hy het spesiaal ingekom net om my te groet. En in plaas van vyf minute het ek vir 18 minute gehuil terwyl ek my bedankinge afgelees het van my iPad.

“En toe ek hom groet en bedank, toe begin hy saam met my huil. En toe ek hom finaal gaan druk en bedank, toe fluister hy in my oor en hy sê vir my: ‘Hierdie is die beste besluit wat jy kon geneem het.' Ek het vir hom gekyk, en met trane in my oë belowe dat ek hom trots sal maak.”

OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.