On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Beskadigde donkiekarretjies sal gratis herstel word - Noordwes-regering

───   15:36 Tue, 15 Nov 2022

Beskadigde donkiekarretjies sal gratis herstel word - Noordwes-regering  | News Article
FOTO: Twitter/NWPGCommSafety

Mahikeng-inwoners in Noordwes is gerusgestel dat beskadigde donkiekarretjies, wat onlangs deur die Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoer as vervoermiddel geskenk is, sonder enige koste vir plaaslike inwoners herstel sal word.

Dit volg op berigte dat die regering 20 donkiekarretjies van sowat R780 000 gekoop het om Dibono- en Manawana-gemeenskapslede te help met vervoer na klinieke en skole.

LEES OOK: R780k donkey carts project looks like ‘a money-making scam’

Inwoners het egter gou gekla dat die swak ontwerp van die waentjies daartoe gelei het dat hulle ná 'n enkele gebruik onklaar geraak het.

Die departementele woordvoerder, Oshebeng Alpheus Koonyaditse, sê: “Ons het inderdaad gevind dat van die dakbedekkings nie in ’n goeie toestand is nie. Die dakke is van 'n seilagtige materiaal gemaak en omdat ons swaar reën gehad het, sou 'n mens aanvaar dat dit skade sou veroorsaak. 

"Volgens die ooreenkoms met die kontrakteur sal dit egter vir die volgende drie jaar deur die kontrakteur reggemaak word teen geen ekstra koste vir die departement of die begunstigdes nie. 

"Teen gister is daar reeds aan hulle aandag gegee. Die departement het die kontrakteur gevra om dalk ’n staaldak in te sit. Teen gister laat is sowat vyf daarvan reeds gedoen.”

Gemengde reaksies

Die oorhandiging van die donkiekarre het kritiek en gemengde reaksies van verskillende belanghebbendes ontlok oor die haalbaarheid van die projek.

Die ingryping het vrae laat ontstaan oor hoekom die departement nie in kritieke infrastruktuur en openbare vervoer belê het nie.

Die Economic Freedom Fighters het die buitensporige bedrag wat aan die karretjies bestee is, bevraagteken en gesê hulle sal 'n saak teen die departement vir beweerde bedrog aanhangig maak, terwyl die Demokratiese Alliansie die provinsiale regering gekritiseer het omdat hulle só ’n primitiewe vervoermiddel aan die inwoners geskenk het.

LEES OOK: 'Noordwes se donkiekarretjies reeds stukkend'

In die plattelandse Manawana en stowwerige Dibono, waar paaie 'n modderige gemors is, sing begunstigdes egter 'n ander deuntjie.

“Ons het gesukkel om te voet tot by die stilhouplek by die teerpad te stap. Nou kan hierdie wa jou tot by die halte neem en wanneer jy terugkom van Mahikeng, neem dit jou terug huis toe. Ek dink hierdie karretjies het vooruitgang gebring. Nou sal niemand water op hul koppe dra nie, want hulle kan hierdie karre gebruik,” sê ’n inwoner, Kereditse Monyadiwa.

Vrae oor die instandhouding van paaie is egter ook geopper.

SABC News



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.