Central SA
Vrystaat Kunstefees skud vere reg vir Oktober─── 11:54 Thu, 04 Aug 2022
Sponsored11:54 Thu, 04 Aug 2022![Vrystaat Kunstefees skud vere reg vir Oktober Vrystaat Kunstefees skud vere reg vir Oktober | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/8148db37-8a00-453d-9a47-cfb4ba93f295.jpg?crop=0,75,800,525)
Die Vrystaat Kunstefees-program vir 2022 is op 3 Augustus 2022 op luisterryke wyse in Bloemfontein bekend gestel.
Kunsliefhebbers kan uitsien na 'n propvol program van uitvoerende, beeldende en literêre kuns wanneer die Vrystaat Kunstefees weer ná 'n periode van twee jaar in persoon voor gehore aangebied sal word.
Terwyl borge en belanghebbendes dié mylpaal gevier het, is die publiek op 'n gratis dakkonsert in die parkeerterrein van die Preller Plein-inkopiesentrum getrakteer, waar hulle 'n behoorlike voorsmakie van die fees ontvang het.
Lees ook: Niks "mini" aan Vrystaat Kunstefees se Mini-Mark in Julie
Corneli van den Berg, die direkteur van die Vrystaat Kunstefees en hoof-organiseerder, sê ná 'n suksesvolle ‘mini-mark’ in Julie, werk die span nou voluit aan die hooffees, wat van 2 tot 8 Oktober 2022 op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind.
“Die program van die Vrystaat Kunstefees 2022 is uit! En, ná twee jaar is ons baie dankbaar om te kan feesvier hier in die Vrystaat. Dit is 'n propvol program. Daar is teater, musiek, film, eksperimentele en visuele kunste, literatuur, en natuurlik 'n reuse mark. Ons kan nie wag om julle daar te sien nie!”
Van den Berg meld ook dat die Vrystaat Kunstefees vanjaar 22 jaar van groei en ontwikkeling, vernuwing en vooruitgang kan vier, te danke aan die getroue en onuitputlike ondersteuning van die gemeenskap.
“Aan elke feesganger, teaterbywoner, musiekluisteraar, filmkyker, kunswaardeerder, boekleser en smulpaap - van alle ouderdomme – julle is 'n ieder en 'n elk uitgenooi! Kom geniet Vrystaatse gasvryheid soos net die Vrystaat Kunstefees dit kan doen.”
Van die trekpleisters op die program sluit in: deus::ex::machina - 'n fisieke uitdrukking van menslike geografie; Till Death Do Us Part - multimedia vertoningskuns wat intieme verhoudingsgeweld ondersoek; die drama Agulhasvlakte met Kay Smith, René Cloete, en Wilhelm van der Walt; Lizz Meiring se Die Weduwee se Sjampanje; oorspronklike musiek van grapmaker Schalk Bezuidenhout; ’n Aand met Elvis Blue, Jak de Priester, Dan Patlansky, en Koos Kombuis.
Kaartjies is te koop by Webtickets.