Central SA
Meer as 400 kliniese poste in Noord-Kaap gevul─── 14:53 Wed, 15 Jun 2022
Die LUR vir Gesondheid in die Noord-Kaap, Maruping Lekwene, het vroeg vanoggend sy begrotingsrede vir die 2022/23-boekjaar tydens 'n algemene sitting van die Noord-Kaapse Wetgewer in Kakamas in die Kai Garib munisipale regsgebied gelewer.
Lekwene sê, as deel van die omdraaistrategie om beter gesondheidsorg aan die inwoners van die Noord-Kaap te verseker, het sy departement 431 kliniese poste gevul tussen Januarie en Mei vanjaar.
Die LUR sê kliniese koördineerders, tandheelkundiges, sowel as dieetkundiges en algemene gesondheidsorgpersoneel, asook terapeute en aptekers, is van die noodsaaklike aanstelings wat gemaak is.
Lekwene sê die departement is ten volle bewus van die realiteite en uitdagings, asook die behoeftes van gemeenskappe, daarom word daar na maniere gekyk om konstant dienslewering te verbeter.
Lekwene sê die forensiese patologiese afdeling het ook ondersteuning in die vorm van personeel gekry, terwyl die samewerking van die openbare en private sektor aangemoedig is in die beskerming van noodsaaklike infrastruktuur van vandalisme.
Die LUR het benadruk dat klinieke en hospitale, asook ambulanse, daargestel is om die belange van die gemeenskap te bedien, daarom moet mense die geriewe beskerm.