Central SA
Lyk van NW-boer in skaapkraal gevind─── 11:27 Mon, 25 Nov 2019

Die lyk van ‘n 67-jarige skaapboer is gisteraand buite Wolmaransstad in die Noordwes deur sy seun in die skaapkraal gevind.
Dit is volgens polisiewoordvoerder, Adele Myburgh, wat aan OFM-nuus gesê het die polisie in Wolmaransstad ondersoek ‘n plaasaanval nadat vyf verdagtes, insluitend twee vroue, na bewering skape by die boer wou koop, waarna hulle die boer en sy vrou glo aangeval het.
Volgens Myburgh is die boer en sy 66-jarige vrou tydens die transaksie oorweldig deur die vyf verdagtes. Die boervrou is daarna saam met die twee verdagte vroue in die huis gedwing waarna hulle aangedring het dat sy die kluissleutel aan hulle moet oorhandig. Myburgh het verder vertel dat die boer intussen deur die verdagte mans in die skaapkraal aangehou is. “Hy is later dood aangetref in die skaapkraal waar hy met ‘n onbekende skerp voorwerp gesteek is,” het sy vertel.
Myburg het ook aan OFM-nuus gesê dat die paartjie se seun, wat ook op die plaas was en vanaf ‘n ander kraal gekom het, die verdagtes in verskillende rigtings gesien hardloop het. Hy het daarna op sy pa se vasgebinde lyk afgekom.
Die oorledene se vrou is in die plaaslike hospitaal opgeneem ná die insident. Volgens Myburgh is sy redelik ernstig aangerand.
Die verdagtes het na bewering met kontant en vuurwappens gevlug en niemand is nog in dié stadium in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
OFM-nuus/Elsabé Richard