Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:11 Thu, 26 Mar 2020

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Volgens hom moet gemeenskappe nooit moeg raak om oor die koronavirus te praat nie. Daarmee saam gaan die debat in die land of daar genoeg kos in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees tydens die nasionale inperking van 21 dae wat vanaand om middernag in werking tree. Laubscher sê die kommer van verbruikers is besig om te verskuif. Eers was daar kommer oor prysstygings wat kan volg, namate die koronavirus vatplek kry, maar nou is daar kommer oor of daar kos gaan wees as bekampingsmaatreëls beweging van mense gaan beperk.
Hy sê daar is talle gerugte in dié verband, maar dit bly ‘n feit dat onnodige beweging van mense die beginpunt van die bestuur van die verspreiding van die virus is. Berigte van leë strate en inkopiesentrums van regoor die wêreld is tekenend van die erns waarmee die verspreidingsprobleem benader word. Afrika-lande, wat oor die vermoë beskik om dit af te dwing, kan ‘n voorsprong behou, maar dan bly die vraag oor kosvoorsiening.
Paniek-aankope het die prys van sekere items die hoogte laat inskiet en om bewysbare opportunisme hok te slaan, het die regering streng maatreëls ingestel om verbruikerspryse in bedwang te hou. Sekere kleinhandelgroepe het selfs begin om rantsoenering toe te pas.
Volgens Laubscher dui die jongste inflasie-statistieke op matige hoër inflasie in Suid-Afrika, maar die goeie nuus is dat dit vanaf plaasvlak daarop dui dat daar voldoende graan in die vorm van mielies behoort te wees. Daarmee saam is koringverbruik toenemend aangewese op invoer en indien die koronavirus beperking daarop plaas, kan duurder brood en verwante produkte van koring moontlik Suid-Afrika se voorland wees. Die vooruitsigte ten opsigte van groente en vrugte is ewe positief indien voedselwaardekettings in gedrang gaan kom ten opsigte van menslike hulpbronne oor werknemers se beskikbaarheid.
In Italië is suiwelboere versoek om minder melk te produseer omdat verwerkingsaanlegte nie oor voldoende menslike kapasiteit beskik om die melk te verwerk nie.
Vleisproduksie is in die proses om te herstel ná die opheffing van die verbod op veilings, maar vraaggeleide stimulus bly afwesig sodat die prys van vleis na verwagting nie sal kan bydra tot die finansiering van die heropbouprogram nie. Die hoop op skerper prysverhogings op plaasvlak weens minder bemarkbare diere, omdat boere vee terughou om kuddes te herbou, is nie nou ‘n redelike vooruitsig nie. Die drastiese verlaging van die rentekoers het mense met skuld laat asem skep. Die groter as verwagte somergraan-oes sal die inkomste van graanboere ‘n hupstoot gee en behoort instansies wat geld uitleen ook meer gerus te stel.
Laubscher sê ongelukkig is die omvang van landbouskuld op vlakke wat dit baie gevoelig maak vir enige moontlike negatiewe impak op inkomste en hierdie skuldvlakke is deels weens uitbreidings, maar bepaald die gevolg van die voortslepende droogte in sekere gebiede.
In sy mening kan die landboubedryf dus vir die grootste deel van 2020 in ‘n konsolidasiefase verkeer, mits daar spoedig uitkoms is ten opsigte van die koronavirus se verspreiding.
Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.
OFM-nuus