On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Arts

TAKE FOUR vier vriendskap, vrouwees en klassieke musiek

───   09:00 Tue, 05 Nov 2024

TAKE FOUR vier vriendskap, vrouwees en klassieke musiek | News Article
Susan Mouton, Zanta Hofmeyr, Elna van der Merwe en Jeanne-Louise Moolman. Foto verskaf

Vier vriendinne en hul liefde vir musiek is wat jy die 21ste November in Bloemfontein kan beleef. Hulle tree in die Odeion op en toegang is gratis. Die konsert begin 19:00.

Jeanne-Louise Moolman van die Odeion Skool vir Musiek sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te vertel van die ontstaan van Take Four. 

Verder gesels sy oor hul konsert die 21ste November in die Odeion in Bloemfontein en hoekom jy gerus die vier vriendinne en hul liefde vir musiek moet kom ondersteun. Toegang is gratis en die konsert vind om 19:00 plaas.

Zanta Hofmeyr is in Johannesburg gebore waar sy ook steeds woon.

Sy het op tien vioollesse begin neem en op 14 haar eerste uitvoering as solis gehad in Henryk Wieniawski se Vioolkonsert no. 2.

Op 17 het sy ’n beurs gekry om aan die Juilliard-musiekskool in New York te gaan studeer.

Ná haar debuut as wenner van die Artists International-kompetisie in die Weill Recital Hall in 1985 het sy teruggekeer na Suid-Afrika en ’n suksesvolle loopbaan as konsertviolis en vioolonderwyser gebou.

Sy was onder meer verbonde aan die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van die Witwatersrand en was vir vyf jaar mede-professor by die Universiteit van Pretoria. Sedert 2006 is sy deeltyds betrokke by laasgenoemde twee universiteite. Sy is tans beskermheer van die Thabang ka Mmino-musiekprojek in Soweto.

Jeanne-Louise Moolman is in Pretoria gebore en het daar studeer, maar woon tans in Bloemfontein.

Sy het as student verskeie pryse verower, onder meer die ATKV Forté- en Oude Meester-kompetisie, en het ook in Salzburg in Oostenryk gestudeer.

’n Pluimpie in haar hoed was toe haar mentor Stefans Grové in 1994 sy Sonate vir altviool en klavier aan haar en haar man, Piet Moolman, opgedra het.

Een van haar talle konsertoptredes was ’ geleentheid om in 2012 op uitnodiging op te tree by die internasionale altviool-kongres in Rochester, New York, waar sy die Suid-Afrikaanse komponis Matthijs van Dijk se Vioolsonate no. 2 uitgevoer het – ’n werk wat vir haar geskryf is.

In haar huidige pos as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat is sy nie net in posisie om vioolonderrig te gee nie, maar ook ’n bydrae te lewer om nuwe geleenthede vir studente én die gemeenskap waarin sy woon te bied. Sy is ook die altviolis in die Odeion Strykkwartet.

Susan Mouton het in Durban grootgeword waar sy op tienarige ourderom met tjellolesse begin het.

Sy het in Pretoria studeer, verskeie pryse verower – onder meer die Unisa SA-musiekbeurs – en ná haar studies eers in 1983 by die Nasionale Simfonieorkes aangesluit en sedert 2000 is sy die Johannesburg Filharmoniese Orkes (JPO) se eerste tjellis. Tydens ’n tjellokongres in Washington het sy die geleentheid gehad om een van haar groot helde, Mstislav Rostropowitsj, te ontmoet.

In 2001 was sy op die beoordelaarspaneel van die Unisa- nasionale strykerskompetisie en in 2010 was sy die enigste Suid-Afrikaner op die paneel van die internasionale strykerskompetisie. Verlede jaar was sy ’n beoordelaar in die sesde Unisa- internasionale strykerskompetisie.

Sy woon saam met haar man, Miroslav Chakaryan, die JPO se konsertmeester, in Johannesburg.

Elna van der Merwe het op Stellenbosch klavier en orrel gestudeer en was deeltydse dosent aan die Universiteit Stellenbosch se konservatorium tot in 2001 toe sy besluit het om haar loopbaan as pianis en veral begeleier voort te sit.

Sedertdien het sy in haar begeleiersrol met verskeie buitelandse kunstenaars saamgewerk – onder andere Michelle Breedt (mezzosporaan), Douglas Masek (saxofoon), Maria Kliegel (tjello) en Susan Milan (fluit).

Sy is deur Samro vereer uit erkenning vir die uitsonderlike diens wat sy lewer as begeleier in dié liggaam se buitelandse beurskompetisies. Sy is ook dikwels die begeleier vir Unisa se sang-, strykers- en meer onlangs ook die fluit- en klarinetkompetisies.

OFM cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.