On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Arts

Vrystaat Kunstefees: Vyf dae van kuns, kultuur ’n beloofde belewenis

───   HEIDRÈ MALGAS 11:58 Tue, 02 Jul 2024

Vrystaat Kunstefees: Vyf dae van kuns, kultuur ’n beloofde belewenis | News Article
Elzabé Zietsman by haar stalletjie, Zietsies. Foto: Charne van der Merwe

“Een ding wat sy altyd vir mense sê, is dat jy honger na die fees toe moet kom, want daar is baie kostalletjies en iets vir almal – van vetkoek en wildsvleis, tot shawarmas.”

Kunsliefhebbers sak van Dinsdag (2/7) af toe op Bloemfontein vir die Vrystaat Kunstefees, oftewel die Vryfees.

Die geleentheid beloof vyf dae van ongelooflike optredes, skitterende beeldendekuns-uitstallings, en letterkundesessies wat kunstenaars en gehore saambring.

Atie Kamper, kunsmarkorganiseerder, werk al jare lank om dié geleentheid ’n sukses te help maak. “As ek my sommetjies mooi gemaak het, is ek nou 20 jaar betrokke by die fees.”

Die lekkerste soetgoed is by die fees te koop. Foto: Charne van der Merwe

Volgende jaar beleef die fees sy 25ste aflewering.

Een ding wat sy altyd vir mense sê, is dat jy honger na die fees toe moet kom, want daar is baie kostalletjies en iets vir almal – van vetkoek en wildsvleis, tot shawarmas.

“Die binnestalletjies is in die Callie Human-saal en in die eksamenlokale. Ons het ses eksamenlokale, waarvan drie vir uitstallers is, en in een is daar ’n groot restaurant, Summerwood.”

Kamper reël ook M’Bala Bala in die vierde eksamenlokaal. Dit is die Sesotho woord vir “kleurryk”, en dis waar kuns en kunsvlyt bymekaarkom. Dis waar jy van enige kuns kan leer; hulle gaan hierdie jaar selfs ’n teddiebeer maak.

Daar is vermaak vir kinders reg deur die dag. Foto: Charne van der Merwe

“Ons gaan ook ’n kappietop maak en ’n handsak weef, en jy kan inskryf vir hierdie werksessies,” sê sy.

In die kreatiewe klasse kan mense ’n teddiebeer brei of ’n skaap maak. Jy koop ’n stel om mee te werk vir R260, en dan bring jy dit terug. Die beste poging kan ’n prys van R1500 wen.

“Om feesgangers veilig te laat voel, is ons prioriteit. Ons vennootskap met die universiteit is fantasties. Die beskermingsdienste van die Universiteit van die Vrystaat is in beheer, sodat feesgangers absoluut veilig kan voel,” vertel sy.

Tussen Callie Human en die eksamenlokale is daar spesiale parkeerplekke vir gestremdes, sodat almal dit kan bywoon. Agter die e-feeslokaal is ook ’n groot parkeerterrein waar gestremdes naby die feesterrein kan wees.

Die aarbei-en-roomstalletjie is altyd ’n wenner. Foto: Charne van der Merwe

Haar wenke vir mense wat die eerste keer na die fees toe kom, is: “Kom honger, dit is die eerste wenk, en kom geniet dit.”

“Stapskoene, definitief, want jy gaan van binne na buite en van buite na binne. Daar is ook die hele dag oop verhoë en ruimtes by die kunstemark waar verskillende aktiwiteite plaasvind.”

Lees alles en meer van die fees op ofm.co.za onder “Events”.

OFM Nuus/Heidre Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.