Agri Hour
Begin jou eie boerdery, moedig NK-skaapboer vroue aan─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 11 Aug 2021
Ten spyte van die droogte in die Calvinia-omgewing in die Noord-Kaap, is die 56-jarige Maria Kastoor hard besig om aan te hou boer.
Sy vertel aan OFM-nuus se Elsabé Richard hoe sy begin boer het en wat haar boodskap vir vroue ter viering van Vrouemaand is…
Sien onderstaande PODCAST
Kastoor het as kind op 'n plaas grootgeword en haar liefde vir landbou het reeds op ‘n jong ouderdom vlamgevat.
Sy vertel dat sy haar pa se regterhand was – altyd gereed om die lusern te help sny en om die skape voer te gee.
Later is sy toe getroud en het dorp toe getrek, “maar die boerdery was maar altyd daar. Al het ons ook hoenders in die jaard gehad.”
Kastoor bly tans op ‘n kleinhoewe in die Hantam-streek met haar man en het twintig jaar gelede bokkies, skape en ‘n paar varke aangekoop. Maar, ná jare van boer het hulle besluit om al hulle skape te verkoop.
Die boerdery gogga het hulle toe weer verlede jaar gebyt toe Kastoor sien hoe ‘n lam uit ‘n trop skape sy ma weer kan vind, “dit gaan nie uit jou uit nie. Dit het wortel gegroei.”
Ten spyte van dieresiektes wat haar kudde onder gekry het en die droogte wat in die omgewing heers, besit Kastoor byna 150 groot skaap, en 36 lammers met ooie wat tans besig is om te lam.
Haar boodskap vir vroue
Kastoor se boodskap aan vroue is om nie moed op te gee in tye van swaarkry nie. “Ek kan vir baie vroue vandag aanmoedig en bemoedig, al gaan dit partykeer opdrand [om moed te hou]. Boerdery is twee treë terug en een treë voorentoe en môre gaan jy weer drie [treë] voorentoe en vier [treë] terug, want jy kan nie boerdery se skade bepaal nie.”
Verder raai sy vroue aan wat sukkel om werk te kry of wat weens die Covid-19 pandemie hulle werk verloor het, om hul eie boerderye aan te pak. Dit, omdat landbou, “virewig sal bly staan.”
OFM-nuus