On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Wes-Kaapse Landbou LUR besoek VS, bekommerd oor landelike veiligheid

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 06 Jul 2021

Wes-Kaapse Landbou LUR besoek VS, bekommerd oor landelike veiligheid | News Article
FOTO: TLUSA.CO.ZA

Landelike veiligheid moet ernstig opgeneem word.

Só sê dr. Ivan Meyer, LUR vir Landbou in die Wes-Kaap, nadat hy die Vrystaat in Mei besoek het. Meyer het saam met ander belanghebbendes onder meer die Lesotho-grens besoek. Hy sê sy departement het verskeie maatreëls in plek gestel om plaasaanvalle- en moorde in die Wes-Kaap te voorkom. 

Sien onderstaande PODCAST

Meyer het tydens sy besoek aan die Vrystaat met Vrystaat Landbou (VL) vergader en saam met plaaslike boere in die Bethlehem-omgewing gepatrolleer. Hy het die Lesotho-grens saam met Roy Jankielsohn, DA lid van die plaaslike wetgewer, besoek om te kyk na hoe die oorgrens-diefstal van vee na Lesotho lyk.

Hy sê dat sy department verskeie maatreëls in plek het om boere, hul gesinne en werkers soveel as moontlik teen landelike misdaad te beskerm.

Meyer sê dit was belangrik vir hom om ‘n ministeriële komitee vir landelike veiligheid op die been te bring waarin hy ook as voorsitter dien. Hierdie komitee was vir hom van kardinale belang omdat landelike veiligheid ‘n kritieke rolspeler in die ekonomie van die Wes-Kaap is.

“Ons het ook hier in die Wes-Kaap besluit dat wanneer daar enige plaasaanvalle is, sal ek as die LUR vir Landbou ook self in die hof verskyn om borgtog teen te staan… Verder het ek ook ‘n landelike veiligheidskantoor gevestig sodat wanneer boere probleme het ten opsigte van landelike veiligheid of aangeval word, dat hulle ook my kantoor kan skakel.

“Ek het ook ‘n digitale platform geskep waar ons boere in die Wes-Kaap toegang kan kry om vinnig hulle kwessies rondom landelike veiligheid op ‘n toep te kan dokumenteer, dan sal my departement vinnig met die nodige owerhede in kontak [met hulle] kom,” sê Meyer.

Daarmee saam het distriksmunisipaliteite, deur middel van finansiële hulp van die plaaslike regering en die landboudepartement, die sogenaamde “LPR”-kameras geïnstalleer, “sodat ons vinnig [op die kamera] kan sien wanneer kwaaddoeners ‘n dorp betree.”

Meyer, tesame met die Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid, het ‘n hof moniteringseenheid gevestig. Hierdie eenheid se doel is om te verseker dat sake wat verband hou met landelike veiligheid suksesvol vervolg word.

“In die Wes-Kaap beskou ons ‘n aanval op ‘n boer, ‘n aanval in die landelike ekonomie, ‘n aanval op ‘n plaaswerker – as ‘n aanval op ons menswaardigheid [en] ‘n aanval op die ekonomie van Suid-Afrika…,” sluit Meyer af.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.