Agri Hour
Biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente noodsaaklik─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 29 Mar 2021
Dieregesondheid is belangrik en daarom is dit noodsaaklik dat lewendehawe-agente hulself vergewis van kritiese biosekuriteitsmaatreëls wat in November 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is.
Dit is volgens Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel APAC.
Sien onderstaande PODCAST
Knowles sê die biosekuriteitsmaatreëls is op 13 November 2020 gepubliseer en is ingestel om te verseker dat albei die wild- en lewendehawebedrywe voldoen aan die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) se internasionale kode om handel te verbeter, en om die risiko van verspreiding van beheerde, aanmeldbare en ander dieresiektes te verminder.
Hy voeg by dat dit volg na aanleiding van ‘n uitbraak van bek-en-klouseer in November 2019, wat ‘n negatiewe impak op Suid-Afrikaanse veilings gehad het.
Alhoewel die reëls vanaf die bogenoemde datum van toepassing is, is daar ‘n bykomende grasie-periode van ses maande. Knowles sê hierdie periode is om agente tyd te gee om hulself te vergewis met die reëls, sowel as die nodige wysigings – soos onder meer infrastruktuur veranderings – te kan aanbring.
Hy sê die implementering van biosekuriteitsmaatreëls vir agente moet voor of op 30 Junie 2021 gefinaliseer wees.
Lewendehawe-agente moet aan die volgende voldoen:
Verpligte registrasie by APAC – dit sluit lewendehawe-agente in wat aanlyn en virtuele veilings aanbied.
Lewendehawe-agente moet aanvaarding en verantwoordelikheid van dieresiektewetgewing erken en afteken.
Daar moet twee keer per jaar ‘n onafhanklike eksterne oudit van die veilingsgeriewe en alle biosekuriteit-prosedures onderneem word. Die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy, SAMIC, sal die rol vervul.
Elke veilingsperseel moet ‘n biosekuriteit-praktisyn aanstel wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad (SAVC) geregistreer moet wees. Dié biosekuriteit-praktisyn is verantwoordelik vir die biosekuriteitsplan en moet ook toesien dat daar aan alle minimum-biosekuriteitsmaatreëls vir alle diere van verskillende oorsprong wat vir opveiling bymekaar kom, voldoen word.
Verder het hy die belangrikheid van diere-identifikasie by veilings benadruk, en sê dat veediefstal ‘n groot probleem in Suid-Afrika is en produsente beloop ‘n verlies van sowat R3 miljard per jaar. “So, wat hierdie reëls vir ons dan identifiseer is dat ‘n dier moet geïdentifiseer (gebrandmerk) word as hy by die veiling opdaag. Daar is sogenaamde ‘nat verf spekulante’ wat in die waardeketting funksioneer. Diere mag in terme van hierdie reëls slegs ná 28 dae, as dit ‘n spekulasie-dier is, dan weer verkoop word deur ‘n veiling.
“Dan mag jy ook natuurlik nie ‘n dier by ‘n veiling brandmerk nie. [As diere by veilings gebrandmerk word] beteken dit dat daar nie identifikasie in die waardeketting is nie, ons weet nie waar die dier vandaan kom nie en ons kan nie die punt van oorsprong bepaal nie.
“Een van die heel belangrikste aspekte van ons biosekuriteitreëls is juis naspoorbaarheid en dan ‘n ouditbare waardeketting,” sê Knowles.
OFM-nuus