On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus

───   05:00 Fri, 29 Jul 2022

Agri-Uur: Jongste Safex-nuus | News Article

Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.

Mielies:

Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Donderdagoggend weer met 0,54% gestyg.

Vir die week wat op 22 Julie geëindig het, het Amerikaanse etanolproduksie marginaal afgeneem tot 'n daaglikse gemiddelde van 1,021 miljoen vate. Die daaglikse gemiddelde het vir die agtste week in 'n ry bly styg bo die een-miljoen-vat-drempel. Die voorafgaande week het 'n geleidelike daling van 1% in etanol-aandelepryse gehad.

Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Donderdag effens opwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Augustus 2022, R100/ton (+ 2,38%) geklim om teen R4 311/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Augustus 2022, R95/ton (+ 2,30%) hoër verhandel om teen R4 230/ton te sluit.

Woensdag is die jongste Oesskattingsverslag vrygestel. Die verslag het geen produksieveranderinge aan die voorspelde witmielie-oes van 7 470 400 ton aangedui nie. Die geelmielieproduksie is met 0,49% opwaarts aangepas tot 7 243 400ton.


Sojaboon:

Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Donderdagoggend met 1,77% gestyg.

Die binnelandse sojaboonkontrakte het Donderdagoggend met skerp opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Augustus 2022 met R206/ton (+ 2,47%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R8 550/ton.

Woensdag is die jongste Oesskattingsverslag vrygestel. Die verslag het 'n opwaartse hersiening van die totale sojaboonproduksie met 60 000 ton tot 2 151 350 ton aangedui. Die geskatte sojaboonoes, indien gerealiseer, sal die grootste sojaboonoes op rekord wees. Gelukkig is sojaboonuitvoer goed op dreef, wat 'n mate van binnelandse prysdruk sal verlig.


Koring:

Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Donderdagoggend 1,67% laer verhandel.

Dit kom ná verwagtinge dat graan uit die Oekraïne binnekort weer die Swartsee-hawens sal begin verlaat. Boonop plaas die Noordelike Halfrond se oesaktiwiteite steeds afwaartse druk op pryse.

Die binnelandse koringkontrakte het Donderdag met effens afwaartse tendense verhandel. Die plaaslike koringmark vir lewering in Augustus 2022 het onveranderd gebly op R7 382/ton. Die Desember 2022 koringkontrak het met R4/ton (+ 0,06%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R7 130/ton.

Die voorlopige Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se skatting van die hoeveelheid aangeplante hektaar, is op Woensdag vrygestel. Vir wintergrane het die aangeplante hektaar koring in die Wes-Kaap met 10 000 hektaar tot 360 000 hektaar toegeneem. Koringopbrengste kan egter beïnvloed word deur die huidige lae reënval wat sommige streke ervaar. Die Vrystaatse aangeplante hektare het op 95 000 hektaar gebly – wat 'n 26% toename is vanaf die 2021-produksieseisoen.

Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.

OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.