On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Indiensnemings in landboubedryf neem toe

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:41 Wed, 12 Feb 2020

Landbounuus-podcast: Indiensnemings in landboubedryf neem toe | News Article

Meer mense is aan die einde van verlede jaar in die landboubedryf in die Vrystaat in diens geneem.


Dit is volgens data van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die vierde kwartaal van 2019. Dié data toon Suid-Afrika se primêre landbou-indiensneming het met 4,2%, of 36 000 poste vanaf die ooreenstemmende tydperk verlede jaar tot 885 000 toegeneem. In die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo was daar ook meer mense in diens geneem, veral in tuinbou en veldgewasse, terwyl daar 'n toename in indiensneming in die veebedryf in die Vrystsaat was. Noordwes en die Noord-Kaap het egter 'n afname in landbou-indiensneming gehad. Senior landbou-ekonoom van die Landboubesigheidskamer, Agbiz, Wandile Sihlobo, sê dié algehele toename dra by tot optimisme oor die vooruitsigte vir landbougeleenthede op die korte duur.  Hy sê die moontlike verbetering in die somergewasproduksie, na 'n uitbreiding van 8% in oppervlakteaanplantings, tesame met die verwagte toename in wyndruifproduksie en ander vrugte, kan tot 'n toename in indiensneming lei.  Die veebedryf gaan egter op die korter termyn nie tot toenemende  indiensneming bydra nie weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo, wat negatiewe geldelike druk op produsente plaas.

EN

Verskeie kunstenaars in die musiekbedryf tree binnekort in Bloemfontein op as deel van die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, se geldinsamelingsinisiatief. Dit geskied in samewerking met die Laerskool Sand du Plessis. 'n Bemarker van dié maatskappy wat op 'n volgehoue grondslag droogtehulp aan landbougemeenskappe regoor die land verskaf, Jan Lotz, sê die Sannies boeredroogtehulp-fees beloof groot vermaak. Sowat tien sangers tree op 14 Maart gratis by die Laerskool Sand du Plessis op. Dit sluit onder meer Jakkie Louw, Dwayne Louw en Zak Steyn in. Lotz sê Boere Droogtehulp SA samel geld in vir onder meer veevoer, kos en water aan landbougemeenskappe wat hulp benodig weens die voortslepende droogte in onder meer dele van die Noord-Kaap en die Oos-Kaap. Hy sê gemeenskappe se ondersteuning is wonderbaarlik in terme van hul skenkings en wanneer landbougemeenskappe besoek word, is dit hartroerend. Lotz vertel 'n besoek aan Vosburg in die Noord-Kaap was vir hom skokkend. Hy was deel van 'n konvooi wat daarheen gereis het en die toestande in die gebied het hom erg geruk. Hy sê dit is 'n buiteligvertoning en toegang is R100 vir volwassenes en R50 vir kinders bo die ouderdom van 14.  Verskeie stalletjies gaan op dié dag beskikbaar wees, maar mense kan hul kampstoele en koelerbokse saambring. Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om onder meer veevoer en ander noodsaaklike produkte soos kos en water aan landbougemeenskappe te verskaf. Besoek Boere Droogtehulp SA se Facebookblad vir meer inligting.


OFM-nuus

 


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.