On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Vrystaat plaas onder kwarantyn geplaas weens veiling

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:37 Tue, 11 Feb 2020

Landbounuus-podcast: Vrystaat plaas onder kwarantyn geplaas weens veiling | News Article

Die plaas in die Bultfontein-distrik in die Vrystaat waarop daar 'n veiling van beeste en skape plaasgevind het, is deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling onder kwarantyn geplaas.


Woordvoerder van die departement, Zimasa Mbewu, sê daar is vinnig gereageer nadat inligting ontvang is van dié veiling en die polisie se veediefstaleenheid is betrek. Sy sê ondersoek is ingestel en daar is bevind dat dié boer nie die nodige papierwerk in orde gehad het nie. Daar is ook nie vroeër reëlings getref om die veiling aan te bied nie, waar daar na bewering vee van meer as twee bronne aangebied is en aan meer as twee bronne verkoop is. Sy sê daar kon egter betyds verhoed word dat die verkoopte diere van die betrokke plaas vervoer word. Mbewu sê dié diere kon betyds van vragmotors afgelaai word en al die diere mag nou vir 28 dae nie verskuif word nie. 'n Staatsveearts monitor die plaas in samewerking met die polisie se veediefstaleenheid om die verdere verspreiding van diere te verhoed. Sy sê daar kan moontlik wetlik teen dié betrokke boer asook die betrokke veilingshuis opgetree word. Dit kom nadat 'n tydelike nasionale verbod geplaas is op die versameling en beweging van gesplete hoefdiere van twee of meer bronne na twee of meer bronne ná die uitbreek van bek-en-klouseer in Limpopo. Dit beïnvloed veilings en die skou van diere. Vanweë die sensitiwiteit van die ondersoek weerhou OFM-nuus die identiteit van die boer en die betrokke veilinghuis. Die ondersoek duur voort.

Intussen sê Francois Knowles, registrateur van die Landbouproduk-agenteraad, ofteweel APAC, dié organisasie is bewus van die onwettige veiling wat op 'n plaas by Bultfontein in die Vrystaat plaasgevind het en het reeds met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Vrystaat vergader.  'n Ondersoek is van stapel gestuur en daar is sekere opsies wat uitgevoer kan word. Hy sê die nodige dissiplinêre stappe sal in dié verband teen die betrokke veilingshuis geneem word.

EN

Daarmee saam sê die Rooivleisprodusente-organisasie, of te wel RPO, in die Vrystaat se voorsitter, Gielie Nieuwoudt, die tydelike verbod op die samekoms van gesplete hoefdiere  vanaf twee en meer bronne wat versprei word na ander bronne, is deur die minister van landbou, Thoko Didiza, ingestel. Dít in 'n poging om die verspreiding van dié siekte, wat op kommersiële eiendomme in Limpopo laat verlede jaar onder beeste uitgebreek het, te verhoed. Nieuwoudt sê dié tydelike nasionale verbod is daarom 'n inisiatief van die department. Die RPO wil graag hê bek-en-klouseer moet vasgevat word en daarom het dié organisasie 'n verpligting om op te tree. Nieuwoudt sê die provinsiale RPO het verneem van 'n veiling van lewende hawe wat in Bultfontein gaan plaasvind en daarom  is daar opgetree en is dit onder die aandag van die departement gebring.


OFM-nuus





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.