On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Hondsdolheid nood-inentings suksesvol

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:26 Tue, 03 Sep 2019

Landbounuus-podcast: Hondsdolheid nood-inentings suksesvol | News Article

Die Departement van Landbou en Landelike ontwikkeling in die Vrystaat se nood-inentings teen hondsdolheid in Bloemfontein het suksesvol begin met eienaars van hoofsaaklik honde en katte wat hul troeteldiere laat inent het.


Dit kom nadat twee gevalle van hondsdolheid in diere in dié stad aangemeld is. Kristan Mojapelo, die direkteur van veterinêre dienste het Maandag tydens die inentingsveldtog by Woodland Hills in Bloemfontein aan OFM-nuus gesê altesaam 23 gevalle is in die Vrystaat in hoofsaaklik honde en ander wilde diere aangemeld met die twee mees onlangse gevalle wat in die westelike deel van Bloemfontein voorgekom het. Hondsdolheid is ‘n virussiekte wat oorgedra word deur bytwonde van besmette diere, soos meerkatte en rooijakkalse wat dit aan troeteldiere oordra. Stadiums van besmetting sluit in veranderde gedrag met diere wat 'n abnormale eetlus en koors het. Daarna word die dier aggressief, gevolg deur progressiewe verlamming. Dié siekte word hoofsaaklik aan mense oorgedra wanneer 'n dier jou byt of krap. Volgens Mojapelo is geen gevalle vanjaar onder mense in dié provinsie aangemeld nie, terwyl tien voorvalle  in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo aangemeld is.

Daarmee saam sê die LUR van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat, William Bulwane, dit is belangrik om bewustheid te kweek rondom hondsdolheid en die dodelike gevolge wat dit vir mense en troeteldiere inhou. Bulwane het Maandag op 'n inentingsveldtog in Bloemfontein aan OFM-nuus gesê die veldtog vorm deel van die internasionale hondsdolheidmaand in September.  Die internasionale dag vir hondsdolheid vind op 28 September plaas.

EN

Die Landbank maak vordering met sy ontwikkelingsmandaat ondanks verskeie uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar. Finansiële volhoubaarheid word ook gehandhaaf. Dié bank het Maandag in sy finansiële jaarverslag aangedui transformasietransaksies het in die afgelope boekjaar 'n groei getoon met uitbetalings van R5,07 miljard wat aan voorheen benadeelde mense en instellings gegaan het. Uitbetalings van R103 miljoen is aan 33 ondernemings, wat deur vroue besit word, gemaak. Die Landbank se uitvoerende hoof, Konehali Gugushe, het gesê 'n nettowins van R130,6 miljoen is behaal, terwyl die bank sy kredietgradering gehandhaaf het. Dié bank het ook 'n sterk balansstaat met 'n soliede kapitaalverhouding van 16,4%, 'n likiditeitsdekkingsverhouding van 549,8% en 'n netto stabiele befondsingsverhouding van 102%.  


OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.