On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Storting van hoender uit EU groot gevaar vir SA pluimveebedryf

───   14:40 Tue, 20 Aug 2019

Landbounuus-podcast: Storting van hoender uit EU groot gevaar vir SA pluimveebedryf | News Article

Die storting van hoender uit die Europese Unie (EU) hou 'n groot gevaar in vir die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf.


Daar is egter maatreëls wat Suid Afrikaanse organisasies in plek kan stel om dit te beveg. Lionel Adendorf, van die teenstortingsbeweging FairPlay, sê dié beweging is een van min wat in die stadium die storting van hoenderprodukte uit die EU monitor en blootlê. Hy sê daar word hard gewerk teen dié groeiende probleem van die storting van bevrore hoenderporsies.   Adendorf het verder verwys na die onlangse EU-studie oor die sogenaamde krisis in die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf wat hy beskou as oneerlik, omdat dit blyk die enigste rede daarvoor is die regverdiging van nóg invoer vanuit die EU na Suid-Afrika.

Intussen meen Marthinus Stander, van Country Bird Holdings, die probleem met storting van hoenderprodukte in Suid-Afrika is die wanbalans onder plaaslik produkte. Hy sê dit is 'n beginselprobleem dat 30% van plaaslike produkte van invoer afkomstig is. Hy sê dit kom neer op 25% van Suid-Afrika se totale hoenderverbruik, terwyl die Europese Unie (EU) die invoer van hoender tot slegs 7% van hul plaaslike verbruik beperk. Stander, wat ook 'n raadslid is van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se braaikuikenafdeling is, sê produsente is nie bang vir die invoer van produkte nie, maar wel vir die storting daarvan asook die impak van die ingevoerde porsies, wat onder kosprys verkoop word.    

EN

Twee vermeende veediewe sal na verwagting volgende maand in die hof verskyn nadat hulle drie beweerde gesteelde skape in 'n Toyota Tazz vervoer het. Landbou.com berig die skape is vermoedelik deel van 40 skape wat onlangs in Coligny in Noordwes as gesteel aangemeld is. Hulle het op 12 Augustus vir die eerste keer in die hof verskyn, waarna hulle op borgtog van R1000 vrygelaat is. Munisipale verkeersbeamptes het die verdagtes se Toyota Tazz voorgekeer nadat hulle 'n skaap op die agterste sitplek opgemerk het. Nóg twee skape is in die motor se kattebak gevind. Die verdagtes se verweer was dat hulle die skape in die kattebak weggesteek het omdat hulle nie beboet wou word nie. Willie Clack, nasionale voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê sowat 29% van vermeende veediewe word in hegtenis geneem en 78% van dié verdagtes, wat in die hof verskyn, word skuldig bevind. Die verdagtes verskyn weer op 10 September in die Stilfontein-landdroshof.





OFM-nuus/Christal-Lize Muller en Vernon Baumann

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.