On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Beweging staan teen storting van hoenderprodukte

───   11:40 Tue, 20 Aug 2019

Landbounuus-podcast: Beweging staan teen storting van hoenderprodukte | News Article

Die teenstortingsbeweging, FairPlay, gaan nie terugstaan nie en beywer hom meer om die negatiewe impak van die storting van hoenderprodukte uit lande soos Brasilië in Suid-Afrika te beklemtoon.


Die stigter van dié beweging, Francois Baird, sê dit is juis nou belangrik dat daar sterk standpunt ingeneem word met die oog op die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) wat 'n aanbeveling aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging oor invoertariewe moet maak. Die aanbeveling is oor hoenderprodusente se aansoek vir 'n maksimum-tarief op ingevoerde snitte. Hy sê dit sluit spesifiek Brasiliaanse bevrore hoenderporsies in, wat stukke aan die been is, asook kleiner ontbeende hoenderporsies. Baird sê dit is belangrik dat Suid-Afrikaners in die bedryf werksaam bly en plaaslike produsente staan nie terug as dit by produksie kom nie.

EN

Intussen sê die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf as daar nie vinnig opgetree word nie, gaan die storting van hoender deur die Europese Unie (EU) die plaaslike bedryf vernietig. Dit is volgens Aziz Sulliman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, wat sê 30% van hoenderprodukte wat plaaslik verbruik word, is afkomstig vanuit die EU. Daarmee saam groei dié syfer vinnig. Sulliman meen as daar nie dringend ingegryp word nie, kan die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf, soos in Ghana, verpletter word. Sulliman meen ander bedrywe is ook al geraak deur die storting van goedkoper produkte uit China. Sulliman noem ook dat 70% van die pluimveebedryf se uitgawe aan voerkoste gaan , waarvan 'n groot deel ingevoer word, wat die situasie vererger en produsente minder kompeterend maak.



OFM-nuus/Christal-Lize Muller en Vernon Baumann

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.