Central SA
Krokodil met man se oorskot in sy pens uit rivier in Mpumalanga gehys─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:11 Sun, 03 May 2026
Die oorskot van ’n Gautengse sakeman is in 'n krokodil se pens gevind nadat hy nie met sy bakkie verder kon ry nie.
Die man (59), wie se naam nog nie bekend is nie, het Dinsdag (28/4) vermis geraak nadat hy glo probeer het om ’n laagliggende brug oor die Komatirivier in Mpumalanga oor te steek. Sy Ford Ranger is later vasgekeer op die brug gevind, met sterk strome wat hom vermoedelik te midde van swaar reënval in die gebied meegesleur het, sê kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Soek-en-reddingspanne het dae lank na hom gesoek. Duikers kon nie na hom soek nie weens die stygende watervlak en kragtige vloei van die rivier. Helikopters en hommeltuie is ingespan om met die soektog te help.”
South Africa | The body of a 59-year-old businessman from Komatipoort has been found. The Bakkie Driver was Swept Away in the Komati River on April 27, 2026.
— Delia Byliefeldt (@DeliaByliefeldt) May 2, 2026
Police shot a large crocodile in the Komati River during the search and human remains were discovered inside the… pic.twitter.com/HRr21pUEzF
Masondo sê die deurbraak het gekom nadat soekspanne begin fokus het op ’n krokodil wie se ongewone gedrag aandag getrek het.
“Na ’n week lange soektog het die span ’n krokodil in die rivier opgespoor wat vermoedelik die man aangeval het. Die nodige toestemming is verkry om die krokodil van kant te maak. Die menslike oorskot is daarna uit die krokodil verwyder.”
Die krokodil het net in dieselfde gebied gebly en het hom nie gesteur aan helikopters wat laag oor hom gevlieg het nie.
“DNS-toetse sal gedoen word om die slagoffer te identifiseer.”
Verskeie agentskappe is in die soektog betrek insluitend die polisie se -soek-en-reddingseenheid, NatJoints, Sanparke, nooddienste, Securecon en die hawebestuurskomitee.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

