On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Aanstaande bruid gebruik ChatGPT as haar troubeplanner

───   15:19 Mon, 29 Apr 2024

Weird Wide Web – Aanstaande bruid gebruik ChatGPT as haar troubeplanner | News Article

“In ’n poging om geld vir haar troue te spaar, het die bruid Maria Cortese besluit om ChatGPT te gebruik.”

Maria Cortese se moed het in haar skoene gesak, nadat sy ’n kwotasie van $5 000 vanaf ’n New Yorkse troubeplanner ontvang het. Die geldslim Poughkeepsie (New York) boorling, het gevrees dat dié hoë fooi die $34 000-begroting sou knou wat sy en haar verloofde, Ryan vir hul huwelik in Augustus 2024 saamgestel het. Maar in plaas daarvan om bloot blindelings te betaal, het die aanstaande bruid ’n bot ingespan.

“Ek gebruik ChatGPT om letterlik alles vir my troue te doen,” het Cortese (32) aan The Post gesê en erken dat sy nog nooit dié gratis kunsmatige intelligensie-platform gebruik het, voordat sy in September verloof geraak het nie.

Cortese is een van die vele voornemende bruide wat ophou om mense te huur en eerder aan die kuberruim ’n kans gee om hul grootdagreëlings te tref.

“Ek spaar soveel geld,” spog sy. “Ek het nie ’n troubeplanner nodig nie. Die KI doen dit alles.”

’n Opname in 2024 via Zola, ’n virtuele troubeplanningshub, het bepaal dat 52% van verloofde paartjies tans eerder outomatisering vertrou met die fyner besonderhede van hul feeste. Volgens die bevindinge word tegnologie gebruik om trouwebwerwe te skep, huweliksbeloftes te skryf en begrotings te bestuur.

“Generatiewe KI het die potensiaal om probleemareas aan te spreek en baie aspekte van die troubeplanningsproses te verfyn,” vertel Allison Cullman, visepresident van handelsmerkbemarking en -strategie by Zola, aan The Post. “Dit kan paartjies help om take vinniger af te handel [en] handelaars in die trou-industrie help om gedetailleerde skedules saam te stel.”

In April het Zola ’n pasgemaakte GPT-instrument vir voornemende paartjies bekend gestel, genaamd “Verdeel die besluite.”

Vir ’n maandelikse ChatGPT+-intekening van $20, verdeel dié intuïtiewe tegnologie “I Do” take tussen die twee vennote op grond van hul individuele sterk punte en belangstellings. Dit stel ook gesamentlike projekte voor wat verloofdes saam kan aanpak.

Lees ook: Weird Wide Web – Kunsmatige intelligensie skep nuwe koffiemengsel

Upper West Side-bruid, Megan Riehl, sê die voltooiing van pligte saam met haar (nou) man, Nate, het die organisering van hul minder as $80 000 troue magies gemaak – veral met die hulp van ChatGPT se beeldgenerator, DALL-E.

“Ons het ons presiese visie in die stelsel ingevoer,” het Riehl (28), ’n sosialemediabemarker, aan The Post gesê. “DALL-E het pragtige kunswerke vir ons uitnodigings gelewer.”

Die kleurvolle illustrasie het die seefrontlandskap van die venue, Crispin Hill in Rochester, New York, waar die paartjie hul huweliksbeloftes in September 2023 uitgeruil het, vertoon.

“Dit het gelyk of ’n kunstenaar dit geverf het.”


Eerder as om ’n bykomende $1 200 vir ’n grafiese ontwerper te betaal, het die paartjie gratis krediete gebruik wat hulle op DALL-E se platform verdien het en slegs $50 spandeer om 200 kopieë van die gerekenariseerde skepping deur Canva te laat druk.

“Dit was pret om dit saam met Nate te doen,” het Riehl gesê. “En dit was ’n lekker manier om geld te spaar.”

Zanah Hernandez (28), ’n finansiële ontleder van San Diego, Kalifornië, wou haarself die stres spaar om ’n wittebrood te beplan ná haar Oktober 2023-seremonie met bruidegom Luis.

Dus het dié vaardige toekomstige bruid vir ChatGPT opdrag gegee om ’n paar voorstelle te maak vir hul vakansie na Italië se Amalfi-kus.

 Lees ook: Mona Lisa kry dalk ’n kamer van haar eie

“Ek het gevra: ‘Kan jy vir my ’n tiendagreisplan voorsien met ’n begroting wat wissel tussen $4 000 en $6 000 met vlugte en hotelle ingesluit?’” het Hernandez gesê. “Ek het ook gevra vir ’n lys van boottoere, restaurante en prettige uitstappies in elke stranddorp wat ons wou besoek.”

ChatGPT het die stralerjakkers aangeraai om by die lieflike Hotel Punta Regina in Positano te bly.

Sy en Luis het ook KI-wenke geneem vir ’n romantiese toer om die Italiaanse kuslyn.

“Dit was so nuttig,” het die dankbare pasgetroude gesê. “Om ’n troue te beplan was so oorweldigend.”

"ChatGPT het my gehelp om die minste moeite te doen om ’n goeie tyd te hê."

Lees meer mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.