On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Nolwethu
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Botswana: Troppe bedreigde seekoeie val vas in modder

───   07:19 Sat, 27 Apr 2024

Botswana: Troppe bedreigde seekoeie val vas in modder | News Article
’n Groep seekoeie in ’n seekoeipoel in Kenia. Foto: Christopher Dutton

“Seekoeie het ’n dik maar sensitiewe vel, wat beteken dat hulle gereeld moet swem.”

Terwyl damme in Botswana opdroog, loop troppe bedreigde seekoeie gevaar om in dié droogtegeteisterde Suider-Afrikaanse land om te kom nadat hulle in modderpoele vasgeval het, het natuurbewaarders Vrydag volgens AFP gewaarsku.

Die streek gaan gebuk onder ’n knellende droogte, veroorsaak deur die El Niño-weerverskynsel. Oeste word bedreig en miljoene is in hongersnood gedompel, terwyl talle lande in die streek onlangs ’n noodtoestand afgekondig het.

Waterafhanklike diere bevind hulle in ’n lewensbedreigende situasie aangesien weivelde ook afgeneem het. The Patriot berig die diere word dus gedwing om lang afstande af te lê om kos en water te vind.

Seekoeie het ’n dik maar sensitiewe vel, wat beteken dat hulle gereeld moet swem om sonbrand te vermy. Hulle woon gewoonlik in vogtige gebiede.

Naby die uitgestrekte vleilande van die Okavango-delta in die noorde van Botswana het die opgedroogde Thamalakanerivier egter troppe seekoeie gedwing om na natuurlike waterreservate naby die toeristedorp Maun te gaan soek.

“Die seekoeie in Ngamiland (noordwes) is afhanklik van die water wat deur die Okavango Delta-stelsels vloei,” het Lesego Moseki, woordvoerder van die Departement van Natuurlewe en Nasionale Parke (DWNP) in Gaborone, gesê.

“Die rivierstelsel droog op en diere is uitgelewer,” het Moseki bygevoeg. 

Volgens phys.org is Botswana die tuiste van een van die wêreld se grootste bevolkings seekoeie wat in die natuur leef, wat deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) op tussen 2 000 en 4 000 beraam word.

In 2021 het die nie-regeringsorganisasie, die Elephant Protection Society, 'n massavoeding van seekoeie by die Nxaraga Hippo Pools, naby Maun, uitgevoer waar seekoeie ook vasgeval het. Dit is nie nét seekoeie wat in modderpoele vasval nie, maar ook olifante.


Die Nxaraga-seekoeipoel was vroeër die tuiste van meer as 200 seekoeie. Die DWNP het vroeër ’n hoë sterftesyfer van seekoeie in die gebied aangeteken. Net sowat 80 het oorleef. 

Sonder water kan hulle aggressief raak en dorpe nader. Plaaslike owerhede vra dat seekoeie na reservate verskuif word om konflik met mense te vermy.

Bronne: Elephant Protection Society; AFP; phys.org; The Patriot

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.