On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Salmmalva: Bedreiging vir Suid-Afrika se inheemse plantegroei

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 03 Apr 2024

Salmmalva: Bedreiging vir Suid-Afrika se inheemse plantegroei | News Article
Die salmmalva, behoort tot die malvafamilie. Foto: Wikipedia

“Die verspreiding van hierdie uitheemse plant kan ’n wye verskeidenheid ekologiese probleme veroorsaak.”

In die uitgestrekte landskappe van die Noord-Kaap en Noordwes vestig ’n stille bedreiging sy wortels.

Die salmmalva of Latin Globe Mallow (Sphaeralcea bonariensis) is ’n indringerspesie afkomstig uit Suid-Amerika wat stadig maar seker die inheemse plantegroei verdring en oorheers.

“Hoewel die salmmalva nie ’n nuwe ontdekking is nie, is dit opvallendheid nuut en ontaard in ’n ernstige bedreiging vir ons omgewing,” sê dr. Charlie Reinhardt, ’n professor aan die Noordwes-Universiteit.

“Die verspreiding van hierdie uitheemse plant kan ’n wye verskeidenheid ekologiese probleme veroorsaak, insluitend die vermindering van biodiversiteit en die verandering van natuurlike ekosisteme.”

Die salmmalva behoort tot die malvafamilie en vertoon ’n kenmerkende voorkoms wat soortgelyk is aan die wilde stokroos. Dit is ’n meerjarige plant wat houtagtig en harig kan word, wat dit onaantreklik maak vir diere wat wei. Hierdie aanpassings dra by tot die suksesvolle verspreiding van die salmmalva en sy vermoë om inheemse plante te verdring.

Die salmmalva hou ’n ernstige bedreiging in vir die omgewing. Foto: iNaturalist

Die invloed van die salmmalva strek verder as net ekologiese uitdagings. Dit kan ook ’n ekonomiese invloed hê deur die vermindering van die drakrag van weivelde en die oorheersing van landbougrond. Sonder effektiewe beheermaatreëls kan die salmmalva ’n ernstige bedreiging vir ons landboubedryf en die plaaslike ekonomie van die Noord-Kaap en Noordwes inhou.

Reinhardt beklemtoon die belangrikheid van vroeë optrede teen hierdie indringerspesie. Hy waarsku dat indringerplante soos die salmmalva stadig begin en mettertyd ’n ernstige probleem kan word. Dit is noodsaaklik vir boere om bewus te wees van die plant en vroegtydig te reageer deur beheermaatreëls toe te pas.

Vir enige navrae stuur ’n e-pos na dr.charlie.reinhardt@gmail.com.

OFM/Agriculture /mvhdg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.