On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Departement beloof planne is in plek vir tonnelsluiting

───   12:00 Mon, 29 Apr 2024

Departement beloof planne is in plek vir tonnelsluiting | News Article
Foto: Pumps Africa

“Die tonnels moet elke vyf tot tien jaar in stand gehou word.”

Die Departement van Water en Sanitasie glo die tydelike sluiting van die tonnel, wat water vanaf Lesotho na Suid-Afrika bring, behoort nie ’n beduidende uitwerking op besproeiingsboere en dorpe in die Vrystaat te hê nie.

Direkteur-generaal Sean Phillips het tydens ’n mediakonferensie in Pretoria gesê daar sal water herlei word vanuit damme en daar gaan ook begin word met waterbesparingsveldtogte.

Die tonnelstelsel, wat insluit ’n oordragtonnel van die Katsedam, Muela-kragstasie en -dam, asook leweringstonnel van die Mueladam en Asrivier-uitloopwerke tussen Clarens en Bethlehem, sal vanaf 1 Oktober 2024 tot 31 Maart 2025 gesluit word vir instandhouding.

“Die tonnels moet elke vyf tot tien jaar in stand gehou word, en met die laaste inspeksie in 2019 is gevind dat die staalvoering dringend omvattende herstelwerk nodig het,” het Phillips gesê.

Weens die sluiting sal 700 miljoen m³ water vanjaar van Lesotho na Suid-Afrika oorgedra word, 80 miljoen m³ meer as normaal. Wanneer die tonnel weer heropen word, sal meer water vrygestel word om vir die verskil te vergoed.

Sakelui en besproeiingsboere het egter vroeër kommer uitgespreek oor die beplande sluiting en die gebrek aan kommunikasie rondom dit.

“Op hierdie stadium word daar 20 000 liter water per sekonde vrygestel uit die Lesotho-Hoogland-skema. Dit vloei langs die Liebenbergsvleirivier en eindig in die Wilgerivier naby Frankfort, vanwaar dit dan vloei in die Vaaldam. As ons geen verdere toevloei kry nie, in ag genome die uiterste swak reënseisoen wat ons gehad het, is daar ernstige probleme,” meen Jacques Jansen van Vuuren van Mafube besigheidsforum.

Grafika: Departement Water en Sanitasie

“Die feit dat die Sterkfonteindam vol is, beteken dat dit ’n reserwetoevoer van water kan voorsien om die Vaaldam aan te vul indien nodig. Die sluiting sal ook geen noemenswaardige watervoorsieningsimplikasies vir huishoudelike gebruikers langs die Liebenbergsvleirivier en sy sytakke in die Vrystaat inhou gedurende die sluitingstydperk nie,” het Phillips verduidelik.

Die Liebenbergsvleirivier ontvang normaalweg uitvloei uit die tonnel, maar terwyl die tonnel gesluit is, sal bykomende water vanaf die Sol Plaatje (Saulspoort) dam voorsien word, wat met water gevul sal word voor die aanvang van die afsluitingsperiode.

Dit sal verseker dat die waterbehoeftes van dorpe langs die rivier, insluitend Bethlehem, Reitz en Tweeling, genoeg water sal hê vir die duur van die sluiting.


Grafika: Departement Water en Sanitasie

“Gelisensieerde besproeiers langs die Liebenbergsvleirivier en sy sytakke sal kennis gegee word om hul onttrekking gedurende die sluitingstydperk tot sekere dae van die week te beperk sodat hul wateronttrekking op ’n volhoubare wyse gedoen word.”

Onttrekking van water uit die rivier sal noukeurig deur die departement gemonitor word tydens die sluiting om te verseker dat daar geen onwettige onttrekking is nie.

“Die departement het sedert 2021 met al die geraakte munisipaliteite begin skakel. Vervolgens het die departement voortdurend vergaderings met hierdie belanghebbendes gehou om aksieplanne wat deur die munisipaliteite en die belanghebbendes saamgestel is, te bespreek om die risiko van enige uitdagings te verminder.”

Die departement wil alle watergebruikers wat deur die beplande tonnelinstandhouding geraak kan word, versoek om water spaarsamig en omsigtig te gebruik gedurende hierdie tydperk as ’n manier om enige onvoorsiene risiko's te bestuur.

OFM Agri cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.