On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Platteland Hoop: Mafube staan saam en sorg self

───   05:00 Wed, 03 Apr 2024

Platteland Hoop: Mafube staan saam en sorg self | News Article
Frankfort se sonkragaanleg. Foto: Mafube Business Forum

“Om werklik ’n verskil in jou gemeenskap te sien is om almal wat ook keelvol vir swak dienslewering is te betrek en saam skouer aan die wiel te sit en nie te wag vir iemand om in te gryp nie.“

“Geen politieke party, besigheid, of instansie gaan ons dorpe vír ons kom red nie. Die enigste mense wat dit kan regmaak is ons,” só vertel Jannie Schabort, ’n boer van Frankfort, en die hoof van die Mafube-besigheidsforum.

Hy het tydens Landbouweekblad en Senwes se Oplossings vir die Suid-Afrikaanse Platteland-kongres buite Bothaville in die Vrystaat meer vertel oor wat die gemeenskappe van Mafube (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia) die afgelope tyd in terme van dienslewering kon vermag het.

Schabort verduidelik hul model, wat uit georganiseerde landbou en gemeenskapsbetrokkenheid tot stand gekom het, is baseer op gemeenskap omdat ’n munisipaliteit nie ’n politieke instansie is nie, maar ’n gemeenskapsinstansie.

“Ons soek volhoubare strukture binne die munisipaliteit en daar is ’n sekere proses om daarby uit te kom. Ook iets wat gedupliseer kan word in die res van Suid-Afrika.”

Nadat inwoners rekeninge ontvang het vir dienste wat nie gelewer word nie, het hulle ’n regsdispuut teen die munisipaliteit verklaar. Daar is toe met die idee gekom dat boere ’n heffing van R18/ha per jaar in ’n rekening inbetaal waaruit verenigings self vir dienste, soos die onderhoud van paaie en veiligheid, betaal. Sowat R7 miljoen per jaar is ingesamel.

Nog ’n plaaslike boer Hans Pretorius en sy vennoot Johnny Mokoena dryf Mafube First, wat hulle beskryf as “’n swart inisiatief met wit steun”. Die twee meen ook om werklik ’n verskil in jou gemeenskap te sien is om almal wat ook keelvol vir swak dienslewering is te betrek en saam skouer aan die wiel te sit en nie te wag vir iemand om in te gryp nie.  

En die hele gemeenskap pluk die vrugte van hul harde arbeid. Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Maintenance Free State (RFS), meen die organisasie is goed op dreef om Frankfort onafhanklik van Eskom se beurtkrag te maak, nog voor die einde van vanjaar.

RFS se sonkragaanleg wek tans genoeg krag op om byna die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien. Nou brei RSF die infrastruktuur uit sodat al vier Mafube-dorpe – Frankfort, Villiers, Tweeling, en Cornelia – by beurtkragverligting kan baat.

Volgens Bosch bly gemeenskapsamewerking die geheim tot sukses: “As jy nou één rede wil hê om van jou buurman te begin hou, is dit om saam met hom aan dieselfde vooruitsig te werk. Daarna kan julle weer stry kry. My ouma het gemeen dis buitendien lekkerder om in die koelte as in die son te baklei.”

Saamgestel deur OFM Agri. cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.