On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Inspiration

Leerder net ’n maand op skoolbanke, slaag steeds matriek

───   08:10 Wed, 24 Jan 2024

Leerder net ’n maand op skoolbanke, slaag steeds matriek  | News Article
Danika en haar ma, Wilma. Foto's: Facebook/C&N Sekondêre Meisieskool Oranje

“’n Seldsame siekte is by Danika Smith gediagnoseer wat haar verhoed het om tyd op die skoolbanke deur te bring, maar sy het steeds gr. 12 geslaag met byna 70% ná drie breinoperasies.”

Sy was net ’n maand van gr. 12 by die skool en die dokter het gesê sy kan maar vergeet om matriekeksamen te skryf, maar Danika Smith se wilskrag was sterker. Sy het teen alle verwagtinge in met byna ’n B-gemiddeld geslaag.

Sy het in vier vakke ’n B-simbool behaal en haar gemiddeld was 69%.

Danika het ’n siektetoestand genaamd idiopatiese intrakraniale hipertensie, wat beteken daar is te veel vog op die brein. Dit veroorsaak onder meer hoofpyn en braking en beïnvloed haar balans en sig.


Sy moes reeds agt breinoperasies ondergaan, waarvan die laaste een in Mei ’n grote was waartydens ’n dreineringstent van die brein tot in die hart geplaas is.

Sy was die eerste ses maande van die jaar in en uit ’n Pretoriase hospitaal. Haar laaste dag as Oranje-leerder was op 16 Februarie waarna ’n eerste van drie operasies in 2023 gevolg het.

Danika en haar ma, Wilma. Foto's: Facebook/C&N Sekondêre Meisieskool Oranje

“Die dokter het gesê daar is nie ’n manier hoe sy haar matriekjaar sal kan voltooi nie. Die brein moet rus. Maar sy het gesê: ‘Ma, ek gaan nie matriek herhaal nie,’” vertel Danika se ma, Wilma.

Sy sê Danika het in trane uitgebars toe sy haar met haar uitslae bel. “Ons kon die punte nie glo nie. Sy was siek tydens die eindeksamen. Ons het aanvaar sy gaan vakke moet herhaal.

“Sy het net die rekord- en eindeksamen afgelê. Oranje se personeel was wonderlik en het al haar skoolwerk en take gestuur.”

‘Danika gaan vanjaar ’n gapingsjaar neem’

Wilma sê Danika se kêrel, Eckard Jansen van Vuuren, en sy ouers in Pretoria was engele. Hy was ook verlede jaar in gr. 12. “Eckard was bedags ná skool hospitaal toe om by Danika te wees. Hy het baie ure daar deurgebring deur of op ’n opblaasmatras te slaap of sy skoolwerk daar te sit en doen.

“Nadat Danika ontslaan is, het sy by hulle gebly. Hulle het gereël dat ekstra klasse by hulle huis vir haar aangebied word.”

Danika gaan vanjaar ’n brugjaar neem en rus, waarna sy in 2025 wil inskryf vir ’n somatologie-kursus aan die Isa Carstens Akademie.

• Berig en foto’s verskaf deur C&N Sekondêre Meisieskool Oranje

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.