On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Kieshof moet Zuma se insluiting op stembrief verduidelik – politieke ontleder

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:31 Wed, 17 Apr 2024

Kieshof moet Zuma se insluiting op stembrief verduidelik – politieke ontleder  | News Article
Prof. Sethugelo Matebesi, politieke ontleder. Foto: OFM News

“Die OVK mag teen die hofbeslissing appelleer om ’n ingeligte besluit te neem.”

Die kieshof se besluit om oudpres. Jacob Zuma se gesig op stembriewe in die komende verkiesing toe te laat, lei tot hewige debatte en laat ernstige vrae ontstaan oor die beginsels van geregtigheid en integriteit.

Prof. Sethulego Matebesi, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat, pleit vir deursigtigheid en duidelikheid in die nadraai van hierdie omstrede uitspraak. Hy sê die OVK mag teen die hofbeslissing appelleer om ’n ingeligte besluit te neem, omdat die insluiting van Zuma op die stembrief ’n beduidende uitwerking op die bestuur van verkiesings sal hê.

“Ek glo sterk dat die OVK ’n geleentheid gegun moet word om duidelikheid te soek oor hoekom die kieshof besluit het om dit toe te laat,” sê hy.

Die OVK moet uitvind hoekom die kieshof die besluit geneem het. Foto: X/twitter.com

Matebesi se kommer spruit uit regsuitdagings en uitsprake waarby Zuma in die verlede betrokke was. Dit het die wenkbroue laat lig en twyfel laat onstaan oor sy geskiktheid om ’n openbare amp te beklee. Dit is veral weens die heersende regsnorme wat individue wat in ’n hof skuldig bevind word, verbied om ’n politieke amp te kan beklee.

Zuma se ampstermyn as president is gekenmerk deur ’n reeks korrupsiebewerings en hofsake, wat steeds by hom spook. Die insluiting van sy gesig op die stembrief het vrese laat ontstaan dat dit die geloofwaardigheid van die verkiesingsproses kan ondermyn en ’n boodskap van straffeloosheid kan oordra aan diegene wat die wet oortree het.

‘Dit sal voorhou as bewys van vervolging deur staatsinstellings’

Matebesi het ook gewaarsku dat Zuma en leiers van sy party waarskynlik die sage tussen die OVK en MK-party sal voorhou as ’n bewys van vervolging deur staatsinstellings. Hy waarsku dat hulle dit kan gebruik om die narratief te versterk dat Zuma nog altyd ’n slagoffer van ’n politieke heksejag was.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het prontuit verklaar die regerende party sal nie toelaat dat sy voormalige leier wegloop met sy militêre vleuel, wat ’n integrale deel van die geskiedenis en erfenis van die ANC is nie.

Ace Magashule, ACT-leier, sê Zuma mag in verkiesings staan en dat meer appèlaansoeke van die OVK net politieke partye se voorbereidings sal vertraag.

“Die kieshof het uitspraak gelewer, en ek dink nou moet ons stembriewe en al die dinge druk. Andersins sal daar appèl na appèl wees, totdat hulle die verkiesingsdatum uitstel,” meen hy.

Magashule sê sy party is bereid om ’n koalisie te vorm met enige party wat bereid is om die mense van Suid-Afrika te dien. Hy voorspel hulle sal goed doen in alle provinsies en beslis die bewind in die Vrystaat oorneem.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.