On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Windtoestande in stormgeteisterde Wes-Kaap ‘meer stabiel’

───   14:18 Tue, 09 Apr 2024

Windtoestande in stormgeteisterde Wes-Kaap ‘meer stabiel’ | News Article
Byna 3 000 strukture en huise is beskadig. Foto: Facebook/Eric Apelgren

“Reën kan na verwagting tot Woensdag in die Tuinroete-distrik voortduur.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, sê toestande in die weste van die provinsie het gestabiliseer. Nooddienste bly op ’n hoë gereedheidsgrondslag in die stormgeteisterde Wes-Kaap

Dit volg op hewige storms en stormsterk wind wat verwoesting oor die provinsie gesaai het.

Bome is in Dorpstraat, Stellenbosch, ontwortel of afgebreek. Foto verskaf

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het van Maandagoggend af ’n ongekende vlak 9-stormwaarskuwing vir verskeie dele van die provinsie uitgereik.

Stormsterk wind het sedert Saterdag verskeie brande aangeblaas en voertuie van brûe afgewaai.

Bome is ontwortel en elektrisiteitspale het omgeval terwyl mense skuiling gesoek het.

“Toestande het in die westelike dele van die provinsie gestabiliseer, maar daar is swaar reënval en stygende watervlakke in die Tuinroete-distrik, wat ons baie fyn dophou,” het Winde Dinsdag gesê.

“Ons topprioriteit bly om lewens te beskerm in gebiede wat nou hoë reënval ontvang. In streke waar die weerstelsel nou verby is, sal ons ons pogings fokus op opruim- en humanitêre hulpoperasies, met hulp van munisipaliteite en NRO’s.”

Winde sê die rampbestuurspan sal op George en omliggende gebiede fokus soos die afsnylaagstelsel ooswaarts beweeg.

“Damme in die Tuinroete-distrik raak vinnig vol of loop reeds oor, veral damme aan die kus in dié streek. Damvlakke in dele van die Karoo styg ook. Die owerheid monitor hierdie situasie voortdurend.

“Al word verwag die swaar reënbuie gedurende die dag sal afneem, hou ons hierdie situasie noukeurig dop, want dit kan bydra tot vloede stroomaf.

“Aan ons kuslyn is ons veral bekommerd oor riviermondings by Mosselbaai en Wildernis.

“Van die seekant af is daar ’n springgety wat saamval met stormvloede as gevolg van die weerstelsel. Van die binnelandse kant af ervaar ons sterk vloeiende riviere en damme wat oorloop. Tesame verhoog hierdie toestande die risiko’s vir oorstromings by riviermondings, selfs al word die mondings na die see oopgemaak,” sê Winde.


Hy sê die weerdiens het bevestig ’n vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën oor die oostelike dele van die provinsie geld steeds.

“Reën kan na verwagting tot Woensdag in die Tuinroete-distrik voortduur.”

Dinsdagoggend was daar ook berigte van stortreën en oorstromings in Centurion, Gauteng.

OFM News cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.