On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Steinhoff-sage: ‘Kry vir jou ’n werk, Berdine’

───   08:57 Fri, 05 Apr 2024

Steinhoff-sage: ‘Kry vir jou ’n werk, Berdine’ | News Article
Berdine Odendaal. Foto: Daniel Saaiman/Polo Lady Mag

Op sosiale media word Jooste se beweerde minnares aangemoedig om “vir ’n salaris te werk, dis hoe die res van ons 'ons maandelikse uitgawes’ dek”.

Berdine Odendaal, die ontslape Steinhoff-skandemaker Markus Jooste se vermeende skelmpie, nader die appèlhof in Bloemfontein om die SA Reserwebank (SARB) te dwing om haar lewenskoste, wat maandeliks R150 000 beloop, asook haar regskoste te betaal.

Odendaal en Jooste was romanties verbind toe die Steinhoff-bedrogspul in 2017 op die lappe gekom het. Die SARB het Odendaal se rekeninge in 2021 bevries nadat sy R60 miljoen se lenings ontvang het van Mayfair-spekulante, ’n maatskappy met bande aan Jooste, berig News24.

Dié geld is glo gebruik om vaste eiendomme en luukse motors te koop.

In Mei 2021 het die SARB vier van Odendaal se bankrekeninge gevries wat sowat R5 miljoen bevat het. Die SARB het ook beslag gelê op twee motors en ’n stuk grond in die Val de Vie-landgoed in die Paarl.

Nadat haar rekeninge gevries is, het Odendaal en die SARB ’n ooreenkoms aangegaan dat die bank haar maandeliks R150 000 sou betaal. R80 000 hiervan was glo om haar poloperde te versorg. Die geld is betaal uit een van Odendaal se rekeninge wat gevries is. Sy het ook twee ad hoc-betalings ontvang om haar regskoste te dek.

‘Odendaal wil haar brood aan albei kante botter’

Die ooreenkoms is in Maart 2022 skielik stopgesit toe Odendaal geëis het dat die bank haar regslui óók betaal. Van toe af is die twee partye in ’n voortdurende regstryd gewikkel. Die SARB beweer Odendaal wil haar brood aan albei kante gebotter hê.

Markus Jooste. Foto: News24

In hofstukke wat in Februarie ingedien is, het Odendaal gesê die hooggeregshof in Kaapstad het twee keer ’n fout begaan deur te bevind die SARB hoef haar niks meer uit haar bevrore rekeninge te betaal nie. Sy sê daar is ’n redelike vooruitsig dat ’n ander hof sal beslis die hooggeregshof het in sy uitspraak gefouteer.

“In die ses jaar sedert die ineenstorting van die Steinhoff-aandeelprys was ek gereeld die onderwerp van onvleiende mediaberigte,” het sy in hofstukke bygevoeg.

‘Sy kan nie as behoeftig beskryf word nie’

Die bank sê die rekening waarmee hy Odendaal betaal het, was in elk geval byna leeg. Sy kan ook nie as “behoeftig” beskryf word nie omdat sy steeds op Val de Vie woon, waar ’n eenslaapkamerwoonstel meer as R4 miljoen kos.

“Odendaal was verplig om haar maandelikse eis teen die geld in haar rekening tot R150 000 per maand te beperk,” was die SARB se redenasie.

Op sosiale media word Odendaal aangemoedig “om maar ’n werk te kry, soos die res van ons” of om vir die regering se “R350 Sassa-welsynstoelae te registreer”.


“Al die geld in daardie rekeninge, asook eiendomme, motors en perde moet opgeveil word, en die geld moet gebruik word om die mense terug te betaal wat geld verloor het weens hierdie korrupsie,” meen ’n sosialemediagebruiker.

“Word wakker en gaan soek werk – dit is hoe die meeste van ons ons ‘maandelikse uitgawes’ dek.”

Jooste (63) het na bewering sy lewe op 21 Maart geneem, ’n dag voordat hy beveel is om homself aan die Valke oor te gee.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.