On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Speaker se hofaansoek misluk om inhegtenisneming te keer

───   11:33 Tue, 02 Apr 2024

Speaker se hofaansoek misluk om inhegtenisneming te keer | News Article
Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Foto: GCIS

“Die staat het dit duidelik gemaak dat hy nie borgtog vir haar sal teenstaan nie en inhegtenisneming sonder aanhouding is nie ’n grondslag vir ’n dringende aansoek nie.”

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se dringende hofaansoek om haar inhegtenisneming weens korrupsiebewerings te keer, is van die rol geskrap. Sy staan tereg op twaalf aanklagte van korrupsie en een van geldwassery.

Regter Sulet Potterill van die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag (2/4) uitspraak in die dringende aansoek gelewer.

Terwyl Mapisa-Nqakula aangevoer het dat haar saak dringend is omdat haar waardigheid en vryheid op die spel is, het Potterill gesê die staat het dit duidelik gemaak dat hy nie borgtog vir haar sal teenstaan nie en inhegtenisneming sonder aanhouding is nie ’n grondslag vir ’n dringende aansoek nie. Dit is met koste van die hand gewys.

Potterill het in haar uitspraak gesê die effek van die verligting wat Mapisa-Nqakula soek, sal wees om “die sluise oop te maak” vir verdagtes om hul inhegtenisnemings te verbied op grond daarvan dat dit onwettig was en die saak teen hulle swak is.

Die speaker staan tereg op twaalf aanklagte van korrupsie en een van geldwassery waarby R4,5 miljoen betrokke is wat dateer uit die tydperk toe sy minister van Verdediging was.

Mapisa-Nqakula het haar tweede dringende aansoek gegrond op die feit dat haar “onregmatige inhegtenisneming” deur die staat “dreigend” was.

In haar dringende aansoek het sy haarself as Suid-Afrika se “derde belangrikste funksionaris” beskryf.

Verlede maand het die Nasionale Vervolgingsgesag ’n klopjag op haar huis in Johannesburg uitgevoer op soek na bewyse wat verband hou met beweerde korrupsie.

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.