On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Hooggeregshof beveel Eskom om kontrakte bekend te maak

───   10:22 Mon, 25 Mar 2024

Hooggeregshof beveel Eskom om kontrakte bekend te maak | News Article
Eskom se Lethabo-kragstasie in die Vrystaat. Foto: Envato Elements

“Burgers verdien ’n elektrisiteitstoevoer wat met integriteit funksioneer, nie een wat deur korrupsie en swak bestuur belemmer word nie.”

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag argumente deur Eskom verwerp dat sommige van sy deurslaggewende kontrakte kommersieel sensitief is en dus nie bekendgemaak kan word nie.

Die hof het Eskom beveel om die volgende binne tien dae bekend te maak:

  • afskrifte van alle aktiewe kontrakte wat Eskom of enige van sy filiale gesluit het vir die aankoop, vervoer en verspreiding van steenkool;
  • afskrifte van alle aktiewe kontrakte wat Eskom of enige van sy filiale gesluit het vir die aankoop, vervoer en verspreiding van diesel; en
  • afskrifte (ongeredigeer) van alle aktiewe kontrakte wat Eskom of een van sy filiale met buurlande aangegaan het om aan hulle elektrisiteit te verskaf.

AfriForum het vroeër die hof genader om ’n besluit van Eskom se adjunk-inligtingsamptenaar, Moleka Tshabalala, om die organisasie se versoek om die inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting in September 2022 wesenlik te weier, te hersien en tersyde te stel.

Die burgerregteorganisaie het probeer om die interne appèlproses te volg, maar Eskom het nooit die appèl afgehandel nie. Die organisasie sê hy het geen ander uitweg gehad as om die appèl as onsuksesvol te ag en die saak op hersiening te neem nie.

Eskom het wel afskrifte van die kontrakte met buurlande verskaf, maar dit is geredigeer en die pryse wat deur die lande betaal is en die identiteit van die persone w’at die partye verteenwoordig, is doodgekrap.

‘Eskom het byna R155 miljard aan primêre energie bestee’

In die boekjaar tot 31 Maart 2023 het Eskom byna R155 miljard aan primêre energie bestee, grootliks saamgestel uit steenkool- en dieselkoste. Dit is ’n styging van 17% teenoor die vorige boekjaar.

Steenkoolkontrakte het onder die soeklig gekom in die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping, en daar was min deursigtigheid oor die prys wat Eskom aan PetroSA, sy grootste verskaffer en ’n mede-onderneming in staatsbesit, betaal.

AfriForum het in die hof aangevoer dat die gemiddelde prys van diesel wyd bekend is, en die publiek het die reg om te weet hoe Eskom se dieselaankope vergelyk.

Wat die kragverskaffingskontrakte met buurlande betref, het AfriForum aangevoer die tariewe wat Eskom vir elektrisiteit hef, jaarliks aansienlik verhoog. Suid-Afrikaners wat verplig word om hierdie steeds stygende tariewe te betaal, moet weet wat Eskom van hierdie lande hef en hoe dit met binnelandse tariewe vergelyk.

Eskom het ’n 'verpligting om deursigtig en verantwoordbaar te wees'

Die hof het gelas dat Eskom nie behoorlike redes verskaf het om AfriForum se versoek te weier nie. Hy het bloot die artikels van die wet aangehaal waarop hy sy weiering gebaseer het sonder om te verduidelik waarom dit in hierdie geval van toepassing is.

Hy het nie sy bewering oor die kommersiële sensitiwiteit van die inligting oor derde partye behoorlik gestaaf nie. Hierdie argument is ook weerspreek deur Eskom se stelling dat die openbaarmaking sy eie onderhandelingsposisie met sulke partye sou verswak.

AfriForum sê in ’n verklaring Eskom is een van die grootste en belangrikste ondernemings in staatsbesit. As sodanig het hy ’n verpligting om deursigtig en verantwoordbaar te wees oor sy bedrywighede. Daarom, voer die organisasie aan, moet die kontrakte openbaar gemaak word.

Eskom het tot 5 April om die inligting aan AfriForum te verskaf. Die organisasie sê hy het reeds begin om ’n span gespesialiseerde operasionele en regskenners saam te stel om die kontrakte oor die volgende paar maande deeglik te ontleed. Indien hulle enige onreëlmatighede teëkom, sal hulle streng stappe teen Eskom versoek.

“Suid-Afrikaners dra al veels te lank die las van kragonderbrekings. Burgers verdien ’n elektrisiteitstoevoer wat met integriteit funksioneer, nie een wat deur korrupsie en swak bestuur belemmer word nie.”

AfriForum sê deursigtigheid is noodsaaklik om die publiek se vertroue te behou en om korrupsie en wanbestuur te voorkom.

OFM Nuus/Moneyweb cg/mcdg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.