On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Upington-boer voorste jong afslaer op Bloemskou

───   19:00 Wed, 01 May 2024

Upington-boer voorste jong afslaer op Bloemskou | News Article
Hanno Ferreira en Jurie Burger. Foto: Plaas Media

“Die kuns om ’n afslaer te wees is vandeesweek weer in die Vrystaatse hoofstad ten toon gestel.”

Die wenner van die Bloemskou-afdeling van die Toyota SA Jong Afslaerskompetisie, wat deur Plaas Media in Bloemfontein aangebied is, hoop dat hierdie blootstelling vir hom ’n voet in die deur van die bedryf kan wees.

“Ek het al ‘n paar geleenthede gehad,“ vertel Jurie Burger van Upington, “maar ek dink nie dit het heeltemal na my kant toe gekom nie. Ek dink hierdie tyd is nou my tyd.”

Burger vertel dat hy as kind by sy pa se dorperveilings so vinnig soos “die oom daar bo” wou praat. “Vandag het ons ook dorpers opgeveil en dit was so reg in my kraal.”

“Ek was heel laaste aan die beurt gewees. Daai eerste manne het my bietjie op my senuwees gemaak. Hulle was baie goed. Toe ek hoor my naam is nommer een, was ek baie bly en aangenaam verras.”

Burger en die deelnemer wat die tweede plek verwerf het, Hanno Ferreira van Ficksburg, sal in September by NAMPO Kaap aan die nasionale rondte deelneem.

Burger, Ferreira, Jovaan Cloete van Lady Grey en Albertus Gouws van Bloemfontein het vandeesweek aan die kompetisie, wat vir die elfde keer by Bloemskou aangebied is, deelgeneem.  

Alan Sinclair, besturende direkteur van Vleissentraal Bloemfontein, wat een van die beoordelaars was, vertel die kompetisie was baie sterk. Daar was net een punt verskil tussen die eerste en tweede plek wenners.

‘Die kwaliteit van die deelnemers was vir my uitstekend’

“Ons het vandag goeie kompetisie gehad, minder inskrywings as ander jare, maar die kwaliteit van die manne wat deelgeneem het, was vir my uitstekend. Dit word net moeiliker om te beoordeel.”

Hy sê beoordelaars kyk na die afslaer se teenwoordigheid, hoe hy beheer neem oor die veiling en hoe hy sy entoesiasme gebruik om ’n beter prys te kry.

“Die manne het regtig uitgehaal en gewys. Daar was kennis oor die diere en die gehoor het baie lekker saamgespeel. ’n Goeie dag en ’n goeie uitkoms.”

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.