On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Noord-Kaap gemeenskap baat by peulprojek

───   05:00 Thu, 02 May 2024

Noord-Kaap gemeenskap baat by peulprojek | News Article
Die hele gemeenskap baat wanneer die peule om die koffie te maak, gepluk moet word. Foto verskaf

“’n Poging om indringerplante in die Noord-Kaap te beheer, het gelei tot ’n florerende besigheid.”

Die gemeenskap van Prieska pluk nou die spreekwoordelike vrugte van geluk nadat ’n onderneming ’n nuwe gebruik vir peule van Prosopisbome ontdek het.

“Dit is die perfekte oplossing vir ’n baie groot problem,” vertel Brandt Coetzee van MannaBrew, gestig in Prieska in die Noord-Kaap, oor ’n ander soort koffie wat hulle hier ontdek het. Dit word gemaak van ’n kaffeïenvrye soort peul van die suidwesdoring of die muskietboom (Prosopis glandulosa) wat veral in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier voorkom.

“Die koffie is streng gesproke nie koffie nie,” vertel Brandt. “Maar dit word op dieselfde manier as koffie gemaak en met die maak hiervan, help dit om dié indringerplant se verspreiding te keer. Die gemeenskap baat ook by die projek.”

Brandt vertel alles het in 1996 begin toe die Departement van Waterwese en Bosbou ’n landwye projek van stapel gestuur het om van indringerplante ontslae te raak.

“Hulle het begin om die bome af te sny. Ons wou weet wat hulle met die hout gaan maak. Hulle het nie werklik nut daarvoor gehad nie.” Brandt vertel hulle het die nodige aansoeke en toestemming gekry om die hout te koop.

Die Coetzees het toe ’n houtwerkfabriek op die been gebring en meubels gemaak. “Ons het later besef besef dit is nie volhoubaar nie. Die groot bome word afgekap maar die kleintjies staan nog in die veld en versprei.”

Hulle het begin om navorsing oor die peule te doen. “Die diere is mal daaroor en word moddervet daarvan.”

Die 'koffie' het ’n laer suurinhoud en bied gesondheidsvoordele. Foto verskaf

Hulle het ontledings en studies gedoen en besluit om die peul op mense te probeer. “Dit is eintlik hoe die hele storie begin het. Die navorsing het gewys hoe voordelig die peul is om bloedsuiker te stabiliseer. Dit is ook suksesvol om insulien te beheer.”

Hy vertel die idee van ’n soort koffie het ontstaan. “Dit het lank geneem om die koffie te ontwikkel en op standaard te kry. Maar nou is dit perfek.”

Die hele gemeenskap baat by die projek.

“In die twee tot drie weke per jaar wat die boom se peule reg is om gepluk te word, spring die gemeenskap in. Tussen 600 en 1 000 mense word gebruik, wat ’n groot ekonomiese inspuiting is.”

Gemeenskapslede help peule versamel om ’n inkomste te verdien. Foto verskaf

Die Coetzees koop die peule per kilogram en nadat dit sorteer is, word dit na die verwerkingsfabriek in Somerset-Wes gestuur. Daar word dit gerooster en gemaal. Net reg vir die perfekte koppie boeretroos.

Hulle hoop om later ’n fabriek in die binneland ook op te rig, sodat nog mense uit die Prieska-distrik daarby kan baat.

Hulle is baie opgewonde oor die toekoms van die produk. Dit is ’n wen vir die natuur en vir die verbruiker.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.