On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

EU-parlement aanvaar ingrypende hervorming van asielbeleid

───   08:57 Thu, 11 Apr 2024

EU-parlement aanvaar ingrypende hervorming van asielbeleid  | News Article
Die stemming self is aanvanklik ontwrig deur betogers wat geskree het: “This pact kills – vote no!” Foto: Skermgreep

“Ons moet besluit wie na die Europese Unie kom en onder watter omstandighede, en nie die smokkelaars en handelaars nie.”


Die Europese Unie (EU) se parlement het Woensdag (10/4) ingrypende hervorming van Europa se asielbeleid aanvaar wat grensprosedures sal verskerp én al 27 lidlande sal dwing om die verantwoordelikheid te deel.

Die parlement se vernaamste politieke groepe het teenkanting van verregse en verlinkse partye oorkom om die nuwe migrasie-en-asielverdrag te aanvaar.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het die keuse verwelkom en gesê dit sal "Europese grense beveilig … terwyl die beskerming van die fundamentele regte" van migrante verseker word.

“Ons moet besluit wie na die Europese Unie kom en onder watter omstandighede, en nie die smokkelaars en handelaars nie,” sê sy.

EU-lidlande het uiteindelik verlede jaar ná amper ’n dekade met tallose terugslae, dooiepunte en herskrywings, ’n ooreenkoms aangekondig oor die EU se nuwe migrasie-en-asielverdrag.

Europa se ontluikende verregse partye het egter gevoel dit is nie streng genoeg nie. Die verlinkses het ook beswaar gemaak op grond daarvan dat die pakket van tien verskillende wetsontwerpe té streng is. Dit sou glo Europese waardes van deernis en menswaardigheid verwerp en ’n groot teru gslag vir menseregte beteken.

EU-regerings – waarvan die meeste voorheen die verdrag goedgekeur het – het ook die aanvaarding daarvan verwelkom.

Olaf Scholz, Duitsland se bondskanselier, en Dimitris Kairidis, Griekeland se minister van migrasie, het dit albei “geskiedkundig” genoem.

Liefdadigheidsorganisasies vir immigrante het egter dadelik die ooreenkoms gekap, wat insluit die bou van grenssentrums om asielsoekers in aan te hou en die besluit om sommiges na “veilige” lande te stuur.

Amnestie Internasionaal sê die EU weet ’n ooreenkoms “sal tot groter menslike lyding lei”, terwyl die Rooi Kruis-federasie lidlande versoek het “om menslike toestande te waarborg vir asielsoekers en migrante wat geraak word”.

Die stemmery self is aanvanklik ontwrig deur betogers wat geskree het: “This pact kills – vote no!” terwyl tientalle betogers buite die parlementsgebou in Brussel plakkate met slagspreuke omhoog gehou het wat die hervorming afkeur.

Die nuwe maatreëls sal in 2026 in werking tree, nadat die Europese Kommissie na verwagting in die komende maande uiteengesit het hoe dit geïmplementeer sal word.

Nuwe grenssentrums sal onreëlmatige immigrante aanhou terwyl hul asielversoeke nagegaan word. En die deportasies van diegene wat as ontoelaatbaar geag word, sou bespoedig word.

Die ooreenkoms vereis ook dat EU-lande duisende asielsoekers van "frontlinielande” soos Italië en Griekeland moet inneem, of - indien hulle weier - geld of ander hulpbronne aan die onderdrukte lande verskaf.

Hongarye, waar ’n anti-immigrasieregering aan bewind is wat die ooreenkoms heftig verwerp het, het bevestig dat hy geen asielsoekers sal inneem nie.

Die Duitse bondskanselier het egter ook kommentaar uitgespreek op X, en sê die ooreenkoms staan vir “solidariteit tussen Europese lande” en sal “uiteindelik die las verlig op die lande wat veral swaar getref word”.

Parallel met die hervorming het die EU dieselfde soort ooreenkoms vermenigvuldig wat hy in 2016 met Turkye aangegaan het om migrasiestrome te stuit.

Hy het ooreenkomste bereik met Tunisië en, mees onlangs, Egipte wat as breër samewerkingsreëlings voorgehou word. Baie parlemenetslede het egter die ooreenkomste gekritiseer.

OFM News cg/mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.