On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

International

Een van Amerikaanse tweeling wat een lyf deel, trou

───   19:16 Thu, 28 Mar 2024

Een van Amerikaanse tweeling wat een lyf deel, trou | News Article
Die Hensel-tweeling op Abby en Josh se troudag. Foto: Facebook

“Ons ouers het ons laat glo ons is in staat om enigiets te doen wat ons wou doen.”

Abby Hensel (34), wat ’n onderlyf met haar tweelingsuster Brittany deel, is getroud en het só ’n droom uit haar tienerjare verwesenlik. Hoewel sy en haar man, Josh Bowling, reeds in 2021 getroud is, is dié nuus eers vandeesweek deur die Amerikaanse nuuswebwerf Today bekend gemaak.

Die drietal woon in die Amerikaanse deelstaat Minnesota waar Abby en Brittany grootgeword en studeer het. Hulle is laerskoolonderwyseresse. Josh is ’n verpleër en afgetrede soldaat en die pa van ’n dogter uit ’n vorige verhouding. Foto's op Josh se sosiale media wys hoe hulle rondreis, wintersport geniet en roomys eet.

Foto's van hul troudag toon Abby en Brittany in 'n tradisionele wit trourok en Josh in 'n deftige, grys pak. Op sosiale media sê mense dat hulle “baie vrae het, veral oor die rol van Brittany in die huwelik, maar dat hulle die paartjie alles van die beste toewens”.

Abby en Brittany Hensel saam met Josh en sy dogter. Foto: Facebook/Josh Bowling

Die tweeling is in 1990 gebore en het in 1996 wêreldwyd bekendheid verwerf toe hulle op The Oprah Winfrey Show verskyn het. ’n Werklikheidsprogram, Abby & Brittany het later gevolg en hul doen en late uitgebeeld, hoe hulle as studente klas loop en in Europa rondreis.

Hulle deel ’n bloedstroom en al die organe in hul onderlyf. Hul ouers, Patty en Mike, het met hul geboorte besluit om hulle nie te skei nie nadat dokters gewaarsku het dat hulle die operasie nie sou oorleef nie.

Die tweeling het voorheen gesê “ons ouers het ons laat glo ons is in staat om enigiets te doen wat ons wou doen."

'Daar is baie wat in hul guns tel'

In 2001 het hul pa in ’n onderhoud met TIME die moontlikheid geopper dat hulle eendag sal trou. “Ander saamgevoegde tweelinge is getroud, hoekom nie hulle ook nie? Hulle is mooi, hulle het persoonlikheid, daar is baie wat in hul guns tel.”

Volgens hul Wikipedia-blad het elkeen 'n hart, maag, ruggraat, longe en rugmurg. Elkeen beheer een arm en een been. As babas het dit samewerking vereis om te leer om te kruip, loop en hande te klap. Hulle kan afsonderlik en gelyktydig eet en skryf. Aktiwiteite soos hardloop, swem, hare borsel, klavier of vlugbal speel, fietsry of motor bestuur vereis koördinasie.

As tieners het die tweeling albei hul skriftelike en praktiese bestuurslisensie-eksamen afsonderlik geslaag nadat wetgewing vereis het dat elkeen gelisensieerd is.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.