On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

International

Namibiese president Sondagoggend oorlede

───   09:11 Sun, 04 Feb 2024

Namibiese president Sondagoggend oorlede | News Article
Die wyle dr. Hage G. Geingob. Foto: X (twitter.com)

Kankerselle is ná ’n roetine mediese ondersoek en ’n biopsie in Januarie by hom waargeneem.

Namibië se president Hage Geingob is Sondagoggend vroeg in ’n hospitaal in Windhoek oorlede, het die presidensiële kantoor in 'n verklaring gesê.

“Mede-Namibiërs, dit is met die grootste hartseer en spyt dat ek u meedeel dat ons geliefde dr. Hage G. Geingob, die President van die Republiek van Namibië, vandag, Sondag 4 Februarie 2024, omstreeks 00h04 by die Lady Pohamba-hospitaal oorlede is waar hy mediese behandeling ontvang het. Aan sy sy was sy dierbare vrou Madame Monica Geingos en sy kinders,” het die waarnemende president, dr. Nangolo Mbumba, in ’n verklaring op X (twitter.com) gesê.

“Die Namibiese nasie het ’n vooraanstaande dienaar van die mense, 'n bevrydingstryd-ikoon, die hoofargitek van ons grondwet en die pilaar van die Namibiese huis verloor. Op hierdie oomblik van diepste droefheid doen ek ’n beroep op die nasie om kalm te bly terwyl die regering aandag gee aan alle nodige staatsreëlings, voorbereidings en ander protokolle. 

Die wyle dr. Hage G. Geingob. Foto: X (twitter.com)

“Die Kabinet sal met onmiddellike effek vergader om die nodige staatsreëlings te tref. Verdere aankondigings sal in hierdie verband gemaak word.

“Mag die siel van ons geliefde dr. Hage G. Geingob in ewige vrede rus.”

Geingob (82), wat sy tweede termyn as president uitgedien het, het verlede maand onthul dat hy behandeling vir kanker ontvang. Dit was nadat kankerselle in ’n biopsie ná ’n roetine mediese ondersoek in Januarie by hom waargeneem is.

Geingob, wat die eerste keer in 2014 tot president verkies is, was Namibië se langsdienende premier en derde president.

In 2013 het Geingob ’n breinoperasie ondergaan, en verlede jaar het hy ’n aorta-operasie in Suid-Afrika ondergaan.

Geingob, wat in 1941 in 'n dorpie in die noorde van Namibië gebore is, was die Suider-Afrikaanse land se eerste president buite die Ovambo-etniese groep, wat meer as die helfte van die land se bevolking uitmaak.

Hy was vanaf sy vroeë skooljare ’n aktivis teen Suid-Afrika se apartheidsregering wat destyds oor Namibië geheers het, voordat hy in ballingskap was.

Hy het byna drie dekades in Botswana en die Verenigde State deurgebring en eersgenoemde in 1964 vir laasgenoemde verruil.

Namibië se presidents- en nasionale verkiesings is vir die einde van 2024 geskeduleer.

OFM Nuus cg



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.